Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Sebastian Coe waarsku opkikkerboewe

Dit gaan moeiliker as ooit wees vir atlete om weg te kom met die gebruik van galopsop by die Olimpiese Spele in Tokio.

Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek. Foto: Getty Images

Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek, het dié waarskuwing gerig aan moontlike kansvatters nadat die skorsing van atlete vanweë opkikker-reëls vanjaar weer hoofopskrifte gehaal het.

Die 100 m-wêreldkampioen, Christian Coleman, gaan teen sy skorsing van twee jaar appelleer nadat hy drie opkikkertoetse misgeloop het, terwyl die 400 m-wêreldkampioen Salwa Eid Naser vir dieselfde oortreding ook voorlopig geskors is.

Wilson Kipsang, ’n voormalige wêreldrekordhouer in die marathon, is boonop ook vir vier jaar geskors.

Atletiek se Integriteitseenheid (AIU), ’n onafhanklike liggaam wat in 2017 gestig is om op te tree teen oortreders van opkikker-reëls, is vanjaar geloof vir die werk wat hy doen, maar die getal oortreders wek steeds kommer voor volgende jaar se skouspel in Tokio.

Tog gee Coe die versekering dat sake beter sal lyk en maatreëls strenger sal wees by die Olimpiese Spele.

“As hulle oortree, is die kans beter dat hulle uitgevang sal word as wat dit by enige vorige Spele was,” het Coe gesê.

Christian Coleman vier sy goue medalje by die Wêreldkampioenskap in Doha in 2019, waar hy die 100 m gewen het. Foto: Getty Images

Hy is egter gepols oor soortgelyke uitlatings wat hy voor die 2012-Spele in Londen gemaak het, toe hy die voorsitter van die reëlingskomitee was.

Tot Augustus vanjaar is nie minder nie as 139 atlete gediskwalifiseer vir die gebruik van opkikkers tydens die Spele in Londen.

Dié getal sluit 39 medaljewenners in, waarvan 13 goud verower het.

Slegs nege atlete is destyds tydens die Londen-Spele uitgevang.

“Tegnologie het aansienlik verbeter sedert 2012. Nou is die proses baie meer gesofistikeerd. Dit is baie meer intelligensie-gedrewe,” het Coe bygevoeg.

“Ek voel asof Wêreldatletiek in Tokio gaan opdaag met ’n beter stelsel as enige ander federasie.”

Hy sê verder dat die sake teen Coleman, Naser en Kipsang ’n aanduiding is van die AIU se onafhanklikheid en onversetlikheid in die stryd teen opkikkers.

“Dit is presies waarom ek (destyds) sterk voorbrand gemaak het dat ’n onafhanklike, onpartydige organisasie tot stand moet kom wat besluite sonder politieke inmenging kan neem,” het hy gesê.

“Ek dink dit wys ook aan die atlete dat reputasies ons nie afskrik nie. Die aard van die skorsings is ’n bewys daarvan.

“Ons sit nie net hier en sê ‘ag wat, dit is ’n groot naam’ nie. Ek hoop dit het ietwat vertroue onder atlete herstel.”

Coleman én Naser het al mond uitgespoel oor die proses waarvolgens atlete tye in elke dag moet deurgee van waar hulle sal wees ingeval toetsbeamptes opdaag.

Naser het selfs gesê dat dit nie problematies moet wees as atlete drie agtereenvolgende opkikkertoetse misloop nie. – Sportredaksie, Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.