Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Coleman in danksy tegniese skuiwergat

Die vinnigste man in die wêreld sal toegelaat word om sy slag by die Wêreldkampioenskappe in Doha te wys nadat klagtes teen hom dat hy toetse vir die gebruik van verbode middels misgeloop het, laat vaar is.

Christian Coleman, wat tans as die wêreld se vinnigste atleet in die 100 m beskou word, het Dinsdag die groenlig by die Amerikaanse agentskap teen die gebruik van verbode middels (Usada) gekry en sal dus op 27 September in Katar in sy voorkeur-nommer kan hardloop.

s
Christian Coleman sal wel toegelaat word om aan die Wêreldkampioenskappe deel te neem. Foto: Getty Images

Dít volg nadat die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada) vir Usada aanbeveel het om nie vir Coleman te verhoed om deel te neem nie.

Die Amerikaanse naelloper, wat die 100 vanjaar al in tye van 9.81, 9.85 en 9.86 sekondes afgeblits het, het ’n skorsing van twee jaar in die gesig gestaar nadat hy drie toetse vir die gebruik van verbode middels in die afgelope 12 maande misgeloop het.

Coleman het die skorsing egter op ’n tegniese punt vrygespring.

Wada vereis van atlete om buite kompetisies hulself vir een uur ’n dag vir opkikkertoetse beskikbaar te stel. Dit beteken hulle moet toetsbeamptes deurgaans in kennis stel van waar hulle hul bevind.

Sou hulle dit nié doen nie, word dit as ’n oortreding (bekend as ’n filing failure) beskou.

Volgens Wada het Coleman sy eerste oortreding (hy het toetsbeamptes nie in kennis gestel waar hy hom bevind nie) op 6 Junie 2018 begaan en sy derde en laaste een op 26 April vanjaar. Dus drie binne ’n jaar, wat strafbaar is met ’n skorsing van twee jaar.

Wada se reël oor dié tipe oortreding sê egter dat wanneer ’n sogenaamde “filing failure” die eerste keer plaasvind, die datum daarvan terugskuif na die eerste dag van die betrokke kwartaal.

Dít beteken Coleman se oortreding het volgens die tegniese vertolking van die reël inderwaarheid op 1 April 2018 plaasgevind en derhalwe was die derde en laaste oortreding meer as ’n jaar later.

Op grond hiervan het Wada vir Usada aanbeveel om die saak teen Coleman te laat vaar.

Volgens die webwerf flotrack.org skep dié reël verwarring en is dit in die proses om oorgeskryf te word.

Travis Tygart, Usada se uitvoerende hoof, het gesê dat hulle die beslissing aanvaar.

“Konsekwente toepassing van die reëls teen die gebruik van verbode middels is van kardinale belang in elke saak,” het hy gesê.

“Ons moet elke saak benader met die hoofdoel om regverdig teenoor atlete en die reëls te wees. Sodoende is daar deursigtigheid en bou ons vertroue in die proses.”

Coleman, wat al 20 keer getoets is sedert die begin van 2018, hou egter vol dat hy nie oortree het nie.

“Ek is nie iemand wat van enige aanvullings gebruik maak nie, so dit pla my nooit om toetse vir die gebruik van verbode middels te doen nie,” het hy gesê.

– Reuters

Meer oor:  Atletiek  |  Iaaf  |  Christian Coleman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.