Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Coleman-hulle vierkant in Simbine se pad

Hy mag dalk goud in die 100 m op die Statebondspele in Australië se Goudkus verower het, maar Akani Simbine sal sy sokkies hoog moet optrek as hy by die Wêreldkampioenskappe in Doha op die podium wil staan.

Kan Suid-Afrika se Statebondkampioen in die 100, Akani Simbine, vir Christian Coleman troef? Foto: Getty Images

Die eerste skote van die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) se Wêreldkampioenskappe klap op 28 September in Katar en Simbine sal na alle waarskynlikheid saam met strawwe kompetisie in die blokke sak.

Dit is juis die silwermedaljewenner in die 100 by 2017 se Wêreldbyeenkoms in Londen, Christian Coleman, wat soos ’n berg in die Suid-Afrikaner se pad sal staan.

Coleman sal vir dubbele glorie mik op die Amerikaanse Kampioenskappe met die hoop om sy slag in die 100 en 200 in Doha te wys, sowel as by volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio.

“Hy gaan beslis vir die dubbel,” het Coleman se bestuurder, Emanuel Hudson, aan Reuters gesê.

“Hy beskou homself nog altyd as ’n 100 en 200 atleet en hy neem gewoonlik aan albei items deel. Hy sal ook in albei op die Olimpiese Spele aantree as alles volgens plan verloop.”

Coleman het in 2018 ’n blitstyd van 9.79 sekondes in die 100 aangeteken. Buiten die feit dat dit sy persoonlike beste was, was dit ook die vinnigste van die jaar maak dit hom die 7de vinnigste atleet in die geskiedenis.

Die Amerikaner Christian Coleman kan vanjaar nog talle teenstanders laat les opsê. Foto: Getty Images

Hy was ook die vinnigste in die wêreld in 2017 met 9.82.

In 2017 het hy 19.85 in die 200 op die stophorlosie gesit - die derde vinnigste van die jaar, maar in 2018 het ’n dyspierbesering gekeer dat hy aan die 200 deelgeneem het.

Dis juis toe wat nóg ’n Amerikaner na vore getree het –Noah Lyles.

Lyles het verlede jaar vier van die voorste vyf tye in dié item in 2018 agter sy naam geskryf. Sy vinnigste was 19.65. Hy het boonop ook toe die 100 in 9.88 sek genael.

Lyles kan ook ’n verrassingspakkie in die 100 wees in Doha, hoewel hy voorkeur aan die 200 gee.

Albei dié blitse kan vir Simbine uitdaag, terwyl die verdedigende wêreldkampioen, Justin Gatlin, ook nie afgeskryf kan word nie.

Simbine spog met ’n vinnigste tyd van 9.89 sek. in die 100, maar sal heelwat op sy beste moet verbeter as hy sy droom op ’n goue medalje op die Wêreldkampioenskappe ’n realiteit wil maak.

Hy sal op die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe, wat 25 tot 27 April in Germiston gehou word, reeds moet wys wat in hom steek.

Clarence Munyai was verlede jaar die tweede vinnigste in die wêreld oor 200 nadat hy die stophorlosie op 19.69 tot stilstand gebring het in Pretoria.

Hy kon daarna glad nie eens naby daardie tyd weer kom nie en sy seisoen is toe boonop kortgeknip deur ’n besering wat hom die res van die 2018 buite aksie gehou het.

Hy sal desperaat wees om te wys dat hy nie net ’n enkele goeie wedloop in sy bene gehad het nie, maar dat hy gereeld blitstye kan hol.

Meer oor:  Akani Simbine  |  Atletiek  |  Iaaf  |  Asa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.