Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Covid-19: Wayde steeds asimptomaties
Wayde van Niekerk sal hoop dat hy Vrydag weer negatief vir die koronavirus toets. Foto: Getty Images

Daar is goeie nuus vir Suid-Afrikaners wat al sedert die naweek hul asems oor Wayde van Niekerk se gesondheid ophou.

Die 400 m-wêreldrekordhouer se terugkeer tot die atletiekbaan is verlede week uitgestel toe hy op die vooraand van sy eerste internasionale wedloop in bykans drie jaar positief vir die koronavirus getoets is.

Die goeie nuus is dat daardie langverwagte terugkeer tot die internasionale arena dalk tog binnekort kan wees.

Dit gaan goed met Wayde. Hy het steeds geen simptome nie.
Peet van Zyl

“Dit gaan goed met Wayde. Hy het steeds geen simptome nie,” het Peet van Zyl, die Olimpiese kampioen se agent, Woensdag uit Italië gesê.

Van Niekerk is in Gemona op sy oefenbasis in Europa, waar hy die Noordelike Halfrond se warm toestande benut om hom vir die Europese atletiekseisoen voor te berei.

Wanneer hy in die blokke sal sak, sal dit sy eerste groot wedloop wees nadat hy sy kruisligament in 2017 in ’n raakrugbywedstryd op Nuweland beseer het.

Die verspringer Ruswahl Samaai en die hekkiesatleet Antonio Alkana het verlede maand saam met hom in Gemona aangekom, terwyl Akani Simbine, die Statebondkampioen in die 100, die afgelope naweek in Italië geland het om hom by die res van die atlete aan te sluit.

Van Niekerk was op die lys van deelnemers vir die Triveneto-byeenkoms in die Italiaanse stad Trieste, waar hy vir die 100 en 400 sou aantree.

Peet van Zyl, Wayde van Niekerk se agent. Foto: Craig Nieuwenhuizen

Hy was die organiseerders se groot trekpleister vir die byeenkoms, maar kon weens ’n beweerde foutiewe toets nie in die blokke sak nie.

Die Suid-Afrikaner is vyf keer in twee weke vir dié siekte getoets. Die eerste drie hiervan was alles negatief.

Vrydag se toets was positief, waarna Van Niekerk Saterdag ’n vyfde keer getoets is. Dié slag is hy weer negatief getoets.

Selfs al was sy jongste toets negatief, kon hy uiteindelik weens die land se voorsorgmaatreëls nie toegang tot die stadion kry nie.

Hy sal die week ’n sesde toets ondergaan wat hopelik alle onsekerheid sal opklaar.

“Weens die positiewe toets en almal se veiligheid, moet ons die Covid-19-protokolle volg en almal sal Vrydag weer getoets word,” het Van Zyl gesê.

“Daar word in elk geval vereis dat die atlete se negatiewe toetse nie ouer as 48 uur mag wees voordat hulle die groen lig vir byeenkomste kan kry nie. So ons sal voor wedlope deurlopend getoets word.”

Alle aanduidings is dat Van Niekerk binnekort sal terugkeer. Waar en wanneer dit mag wees, sal net die tyd leer. Van Niekerk en sy afrigter, Ans Botha, sal op grond van sy jongste toetsuitslag op die volgende byeenkoms besluit.

“Ons sal volgens die riglyne werk en dan besluit waar ons volgende gaan hardloop,” het Van Zyl bygevoeg.

Meer oor:  Peet Van Zyl  |  Wayde Van Niekerk  |  Bloemfontein  |  Covid-19  |  Olimpiese Kampioen  |  Naelloper  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.