Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Covid-terugslag tref hekkiesblits Rikenette

Rikenette Steenkamp sal moontlik haar planne om aan die Europese binnenshuise seisoen deel te neem eers moet uitstel nadat sy positief getoets is vir Covid-19.

Dié Tuks-atleet en Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 100 m-hekkies is die afgelope week reeds in die bed met erge hoofpyn en ander verkouesimptome.

Die blitsige Tuks-atleet Rikenette Steenkamp sal vir eers nie oor hekkies kan seil nie. Foto: Reg Caldecott

Haar energievlakke is bitter laag en sy het in net vyf dae soveel as 3 kg verloor.

Volgens Steenkamp het sy goor begin voel toe hulle van vakansie af teruggekeer het.

“As atlete is ons baie bewus daarvan wanneer ons liggame nie soos normaalweg reageer nie,” het sy luidens ’n verklaring gesê.

“Ek was aanvanklik net deurlopend moeg. Ek het middagslapies begin neem, iets wat ek nog nooit voorheen gedoen het nie. Ek het besluit om myself te laat toets toe my simptome erger geraak het. Die uitslag was geen verrassing nie.”

Steenkamp sê dat sy nou eers die tyd sal neem om te herstel voordat sy enigsins verder sal probeer oefen.

Ek was aanvanklik net deurlopend moeg. Ek het middagslapies begin neem, iets wat ek nog nooit voorheen gedoen het nie.

“Die belangrikste ding is om te fokus daarop om dit een dag op ’n slag te neem aangesien dit onduidelik is hoe lank my liggaam gaan neem om van die virus te herstel. Ek ken myself en sodra ek beter voel, sal ek weer wil begin oefen.

“Daar was selfs ’n oomblik waar ek gevoel het dat ek teen volgende week terug na die baan sal kan keer, maar Wenda Nel het my oortuig dat dit simpel sal wees om dit te doen. Sy het gesê dat ek op die heel meeste baie stadig rondom die baan sal kan stap.

“Wenda behoort te weet. Sy is self verlede jaar positief getoets vir Covid-19.”

Nel het in 2018 brons in die 400 m-hekkies by die Statebondspele verower by die Goudkus in Australië.

Steenkamp sal egter nie te bekommerd wees oor dié terugslag nie.

In 2016 moes sy van vooraf leer loop nadat sy ’n enkeloperasie ondergaan het. ’n Jaar later het sy vir die eerste keer onder 13 sekondes gehardloop toe sy in Ostrava die wenstreep in 12.99 oorgesteek het.

Steenkamp se volgende groot doelwit is om in die blokke te sak by die Olimpiese Spele in Tokio.

Daar heers tans onsekerheid oor of dié byeenkoms sal voortgaan te midde van die pandemie.

“Vir ons atlete is dit verstandelik uitputtend. Daar is tye tydens die pandemie waar dit voel of ons een tree vorentoe en twee treë agteruit gee,” sê Steenkamp.

“Jy probeer oefen om op jou beste te wees vir die Olimpiese Spele, maar daar is geen waarborge nie. Ons kan net hoop dat dit nie ’n herhaling van verlede jaar sal wees met die Spele wat weer uitgestel word nie,” sê sy. – Sportredaksie

Meer oor:  Wenda Nel  |  Rikenette Steenkamp  |  Covid-19  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.