Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Diamantliga-reeks skrap 200 m vir 2020

Die Diamantliga-reeks sal in 2020 geen 200 m-wedlope hê nie, terwyl drie ander nommers ook in die slag gebly het.

Die drie gewildste nommers in die reeks is die 100, verspring en hoogspring, met die paalspring, 200 en 400 wat daarna volg. Dís nou as daar na die resultate gekyk word van studies wat deur verteenwoordigers van die Diamantliga-reeks in China, Frankryk, Suid-Afrika en Amerika uitgevoer is.

Vroeër vanjaar is besluit om net 24 nommers (12 vir mans en 12 vir vroue) in 2020 se skedule in te sluit.

Die VSA se Noah Lyles het in 2019 die 100 m en 200 m se titels by die Diamantliga-reeks verower. Foto: Getty Images

Ná die Diamantliga-verteenwoordigers se studies, tesame met navorsing op sosiale media, is besluit om vier nommers weg te laat.

Benewens die 200 is die 3 000-hindernis, diskusgooi en driesprong die trekpas gegee.

Luidens ’n verklaring deur die organiseerders van die reeks is die 200 weggelaat omdat hulle gevoel het dat dit “te veel” vir naellopers gaan wees in ’n jaar waar ’n Olimpiese Spele wag.

Alle hoop is egter nie verlore vir atlete wat in dié vier nommers spesialiseer nie, met die 200 en 3 000-hindernis wat steeds op vyf uit die tien byeenkomste aangebied sal word, hoewel hulle nie Diamantliga-status sal geniet nie en daar ook nie eindrondes gehou sal word nie.

Twee byeenkomste sal ook die diskus en driesprong in hul program inwerk, maar dít sal ook nie Diamantliga-status geniet nie.

“Ons doelwit is om ’n korter, meer opwindende wêreldwye liga te hê, wat ’n vertoonvenster vir die sport sal wees,” het Sebastian Coe, die president van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) en ook voorsitter van die Diamantliga-reeks, gesê.

“Ons soek ’n liga wat uitsaaiers wil wys en waarna ondersteuners wil kyk. Maar ons verstaan die teleurstelling van die atlete wie se nommers nie deel van die seisoen in 2020 gaan wees nie.”

Volgens Coe sal die vier nommers wat weggelaat word wel deel vorm van die Kontinentale reeks, ’n internasionale reeks wat ter ondersteuning van die Diamantliga-reeks gehou sal word.

Daar sal dus steeds prysgeld op die spel wees in die 200, 3 000-hindernis, diskusgooi en driesprong.

Die atlete wat die meeste punte behaal in dié vier nommers op die betrokke byeenkomste, sal ’n promotorskeuse wees vir die Wêreldkampioenskap wat in 2021 in Eugene, Oregon, gehou sal word.

Die nommers wat wel deel van die Diamantliga bly, is die 100, 100- en 110-hekkies, 400, 400-hekkies, 800, 1 500, 3 000, verspring, hoogspring, paalspring, spiesgooi en gewigstoot.

Gevolglik sal Noah Lyles, wat vanjaar die titels in die 100 en 200 in dié reeks losgehardloop het, hom volgende jaar op die 100 moet toespits indien hy weer Diamantliga-glorie wil proe.

’n Opwindende tweestryd tussen hom en sy landgenoot en 100-wêreldkampioen, Christian Coleman, kan dus verwag word.

Meer oor:  Atletiek  |  Iaaf  |  Diamantliga  |  Diamantliga-Reeks  |  200 M  |  Sebastian Coe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.