Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Dís wanneer Wayde titel sal verdedig

Atletiek sal in 2021 van 30 Julie tot 8 Augustus koning kraai by die Olimpiese Spele in Tokio met die nuwe program wat uiteindelik bekend gestel is.

Wayde van Niekerk sal na verwagting op 1 Augustus 2021 die verdediging van sy Olimpiese-titel in die 400 m afskop. Foto: Getty Images

Reeds op die eerste dag sal die eindronde van die mans se 10 000 m plaasvind met Uganda se Joshua Cheptegei wat sy wêreldtitel in 2019 en sy Statebond-titels in 2018 sal probeer opvolg met ’n Olimpiese goue medalje. Dit nadat hy in 2016 in Rio de Janeiro met ’n sesde plek tevrede moes wees.

Net so sal die Switserse federale hooggeregshof se uitspraak in Caster Semenya se appèlsaak ook bepaal of die Olimpiese kampioen haar 800-titel ’n tweede slag kan probeer verdedig met die uitdunne in dié item wat ook op die eerste dag plaasvind.

Sou Semenya onsuksesvol wees, sal sy 2 Augustus 2021, teiken as die dag waarop sy in die 200-uitdunne in die blokke wil sak en dit boonop ook deur die halfeindronde maak.

Sy sal egter nog eers die kwalifiserende vereiste van 22.80 sekondes moet haal voor dan.

Die verspringers Luvo Manyonga en Ruswahl Samaai sal 31 Julie (12:10 SA tyd) moet gebruik om ’n plek in die eindronde los te spring.

Manyonga sal veral ’n appeltjie te skil hê nadat hy in 2016 met 1 cm op die goue medalje uitgemis het toe die Amerikaner Jeff Henderson met sy heel laaste poging die Suid-Afrikaner verbygesteek het.

Die naelloper Akani Simbine sal rondom dieselfde tyd in die blokke sak in die uitdunne vir die 100 m, waarin hy in 2016 ’n vyfde plek behaal het.

Dit sal boonop die eerste Olimpiese byeenkoms sedert 2000 wees waar Usain Bolt nie in die blokke sal sak nie.

Die verspring-eindronde sal op 2 Augustus (03:08) gehou word, met die 100 se halfeind (12:15) en eindronde (14:50) wat albei op 1 Augustus gehardloop word.

Suid-Afrikaners sal op 1 Augustus wel vroeg moet opstaan indien hulle wil sien hoe Wayde van Niekerk sy uitdunne pak in die oggendsessie.

Dié wedloop sal om 03:45 wegspring.

Die halfeindronde sal op 2 Augustus tydens die middagsessie plaasvind en om 13:05 wegspring.

As Van Niekerk dit tot die eindronde maak, sal hy ’n paar dae kan herstel met dié wedloop se skoot wat eers op 5 Augustus tydens die middagsessie (14:00) sal klap.

Suid-Afrika sal ook ’n plek op die podium in die mans se 4x100 m-aflos teiken.

Die uitdunne is ook op 5 Augustus, wat waarskynlik beteken dat Van Niekerk nie vir dié wedloop oorweeg sal word nie.

As die Suid-Afrikaners dit tot die eindronde maak, kan Van Niekerk wel vir dié wedloop in aanmerking kom, wat op 6 Augustus die hoofitem sal wees.

Die Tokio Spele sal boonop die eerste keer in die geskiedenis wees wat die mans en vroue se marathon-medaljeseremonies tydens die skouspel se afsluitingseremonie sal plaasvind.

Dié wedlope sal steeds in Sapporo, hoofstad van die Japanse eiland Hokkaido, gehou word, sowat 800 km weg van Tokio.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.