Die Suid-Afrikaanse atletiek-superster Wayde van Niekerk het vrede gemaak met die kniebesering wat hom so lank uit die sport gedwing het en gee niemand anders die skuld nie.

Die oomblik toe Wayde van Niekerk in 2017 ’n ernstige kniebesering tydens ’n raakrugbywedstryd op Nuweland opgedoen het.
Foto: Gallo Images | Roger Sedres
Van Niekerk, die Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer in die 400 m, het sy knie in ’n raakrugby-wedstryd op Nuweland in 2017 beseer en het sedertdien nog nie weer op die groot verhoog deelgeneem nie.
Hy was wel vroeër vanjaar i die Vrystaatse kampioenskappe in Bloemfontein in aksie.
Van Niekerk het ná sy besering die Statebondspele in 2018 en die Wêreldkampioenskappe in 2019 misgeloop.
“Ek kan niemand anders blameer nie. Ek is die een wat besluit het om ’n rugbywedstryd te speel en myself in daardie posisie te plaas,” sê Van Niekerk volgens worldathletics.org.
“Ek is ’n beroepsatleet en dit was my besluit. Dit het ’n bietjie van ’n skuldgevoel veroorsaak en ek het gewens dat ek nie gedoen het wat ek gedoen het nie.
“Maar dis my realiteit, dit het gebeur en om blaam te verskuif, gaan nie help om my sterker as voorheen te laat terugkeer nie,” sê hy.
Van Niekerk se laaste internasionale wedloop was in 2017, toe hy in die 200 m by die Wêreldkampioenskappe in Londen die silwermedalje verower twee dae nadat hy die 400 m-titel agter sy naam geskryf het.
Van Niekerk het in 2016 die goue medalje in die 400 by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro verower.