Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Dlamini’s gee Comrades-pas aan

Die 91ste Comrades-wedloop sedert 1921 word vandag (Sondag) oor ’n afstand van 89.2 km tussen Pietermaritzburg en Durban gehardloop. Die meer as 16 000 atlete wat voor die stadsaal van Pietermaritzburg sou wegspring, het tot 17:30 vanmiddag tyd om die eindstreep in die Kingsmead-krieketstadion in Durban te bereik. Sarel van der Walt is Rapport se man by die wedloop.

Foto:

Durban. – Die beseerde Skotse Kanadees Ellie Greenwood , wat twee jaar gelede die afdeling vir vroue in die af-Comrades gewen het, het gister hier in trane uitgebars toe Vangelis se “Chariots of Fire” begin speel het.

    Greenwood moes haar vroeër vandeesweek weens ’n heupbesering aan vandag se Comrades onttrek.

    Die trane het in haar oë begin opwel toe dié musiek begin speel het by die Durbanse Uitstalsentrum, waar die atlete geregistreer het.

    “Op daardie oomblik het ek boonop ’n vriend uit Vancouver wat deelneem, skielik voor my sien staan. Toe tjank ek!” het Greenwood later aan Rapport erken.

    “Chariots of Fire” is die nieamptelike temalied van die Comrades en in Suid-Afrika is dit si­no­niem met dié moordende wedloop. Dit word kort voor die wegspring gespeel en weer wanneer die eerste man en vrou die eindpunt bereik.

    “Dis nie lekker om al die harde werk te doen en dan kort voor die wedloop te moet onttrek nie,” sê Greenwood. Omdat sy nie kan hardloop nie, tree sy as kaptein van die Nedbank-span op.

    Greenwood sal ook vandag help met televisie-kommentaar oor die wedloop.

                                                                                              ***

    Die 54-jarige Shaun Meiklejohn, die Comrades-kampioen in 1995, sal vandag die 28ste keer probeer om ’n silwermedalje in die Comrades te verower.

    Die atleet van Pietermaritzburg is boonop een van ’n handvol atlete wat met tien goue medaljes in dié wedloop spog.

    Die afsnytyd vir ’n silwermedalje is vanmiddag om 13:00.

    Meiklejohn, wat in 1982 as 20-jarige die eerste keer gehardloop het, se stadigste tyd was daardie jaar 7:18:46.

    Bruce Fordyce, negemalige wenner, sê Meiklejohn se vertoningslys maak hom een van die beste atlete in die Comrades se roemryke geskiedenis.

    Alan Robb, nog ’n Comrades-grote en viermalige wenner, sal aan sy 43ste opeenvolgende Comrades deelneem.

    Fordyce het ná sy 30ste Comrades uitgetree.

                                                                                   ***

    Die Dlamini’s gee vandag die pas aan in die Comrades.

    Altesame 115 Dlamini’s het vir vandag se wedloop ingeskryf.

    Die Smith’s is tweede met 94 inskrywings, gevolg deur Ndlovu (92), Naido (80) en Botha (79).

    Die Mkhize’s (69), Ngcobo’s (66), Khumalo’s (66) is ’n kortkop voor die 59 Van der Merwe’s.

                                                                                  ***

    Caroline Wöstmann, verlede jaar se Comrades-wenner, is een van 1 130 ouditeurs wat vir die Comrades ingeskryf het.

    Dié 33-jarige senior lektor in ouditkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand hardloop boonop vir die klub van die ouditeursfirma KPMG.

    Daar is ook 141 boekhouers.

    Vier regters sou volgens plan ook voor die stadsaal van Pietermaritzburg aangetree het.

    Drie politici sal ook vandag sien hoe Suid-Afrikaners in harmonie saam deelneem.

    Altesame 2 030 deelnemers het hul beroep as bestuurders aangedui, terwyl 1 205 deelnemers selfaangestelde beroepe volg.

    433 werkloses neem aan die wêreld se grootste ultra-wedloop deel.

    Onder die ander beroepe is 208 afgetredenes, 146 boere, 423 advokate en prokureurs, 213 elektrisiëns, 10 kroegmanne, 367 dokters en spesialiste, 117 soldate, 96 fisioterapeute, 62 argitekte, 40 restaurateurs en 229 huisvroue. Daar is 34 joernaliste.

                                                                                 ***

    Die Randse Atletiekklub (RAC) vir wie Fordyce in sy gloriedae deelgeneem het, is oudergewoonte die klub met die meeste deelnemers in vandag se Comrades. Altesame 435 van RAC se lede het vir die wedloop ingeskryf.

                                                                                 ***

    As ’n Suid-Afrikaanse man of vrou vandag die Comrades wen, wag daar ’n bank vol geld op hulle.

    Die wentjek is R400 000 vir sowel die eerste man as vrou. Indien dit ’n Suid-Afrikaner is en hy die Rus Leonid Shvetsov se rekord van 5:20:41 vir die af-wedloop oortref, kry hy ’n verdere R400 000.

    Frith van der Merwe se rekord is ’n ewe formidabele 5:54:43. As ’n Suid-Afrikaanse vrou dit oortref, sal sy ook nóg R400 000 ryker wees.

    Dis nie al nie. Fikile Mbalula, minister van sport, het Vrydag aangekondig sy departement sal R100 000 gee as ’n Suid-Afrikaanse man of vrou die wedloop wen.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.