Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Een van SA se beste atlete, Ewald Bonzet, sterf
Ewald Bonzet afgeneem tydens ’n onderhoud in 2015. Foto: Nasief Manie

Een van Suid-Afrika se beste en mees veelsydige atlete, houer van talle nasionale rekords en ongelooflike mededinger.

Dít is hoe Ewald Bonzet (64) deur tydgenote en kenners onthou word. Bonzet in Woensdagaand in Kaapstad ná ’n lang stryd teen beenmurgkanker oorlede.

Bonzet het in sy atletiekloopbaan deurlopend die Suid-Afrikaanse rekords in onder meer die 3 000 m, 5 000, 10 000 en 3 000-hindernis gehou en verbeter.

Bonzet vir die WP-atletiekspan in aksie in 1976. Foto: Argief

“Op sy beste was hy een van net vyf atlete wêreldwyd wat ’n droommyl kon hardloop én die marathon in minder as 2 ure 13 sekondes kon voltooi,” het Riël Hauman, bekende atletiek-statistikus en vriend, aan Netwerk24 gesê.

Bonzet was deel van ’n “goue generasie” Suid-Afrikaanse middelafstand-atlete wat weens die land se sport-isolasie nie internasionaal kon meeding nie, maar steeds tye van wêreldgehalte gehardloop het. Dié goue geslag het atlete soos Danie Malan, Dicky Broberg, Marcello Fiasconaro, Fanie van Zijl en Andries Krogman ingesluit.

“Hy was ’n baie groot introvert, en waarskynlik een van die veelsydigste atlete wat Suid-Afrika nog ooit gehad het,” het Eben Human, ’n voormalige atletiekverslaggewer van Die Burger wat ook teen Bonzet meegeding het, gesê.

“Hy het tye van internasionale gehalte van die 1 500 tot die marathon gehardloop.”

Human onthou dat Bonzet “sy eie ding gedoen het” en “ongelooflike dissipline” gehad het.

Bonzet, in sy Spartan Harriers-frokkie, neem aan die 3000 m-hindernis deel tydens die Tweede Kersdagbyeenkoms in die Paarl in 1973. Foto: Argief

“Hy het soos ’n masjien geoefen. Dit was ongelooflik om te sien hoe daai man homself kon motiveer. Hy het elke dag van sy lewe gehardloop en hy was selfs in daai tyd baie gefokus op sy dieet.”

Hauman is oortuig dat Bonzet tesame met die res van die goue generasie groot dinge op die internasionale verhoog kon bereik as dit nie vir die sportboikot teen Suid-Afrika was nie.

“Hy het egter in Oktober 1984 onder ’n skuilnaam aan die Chicago-marathon in die VSA deelgeneem, maar steeds in sy Bellville-frokkie gehardloop,” onthou Hauman.

Hauman sê Bonzet se mededingendheid was van so ’n aard dat hy te midde van chemoterapie strykdeur bly oefen het.

“Hy was ongelooflik mededingend. Hy het nie deelgeneem as hy nie op sy beste was nie.”

Bonzet word oorleef deur sy vrou, Rene, en ’n seun, Ewald.

Die Suid-Afrikaanse rekords wat Bonzet in sy loopbaan gehou het:

1972: 10 000: 28:51.6

1974: 3 000: 7:53.2

1974: 5 000: 13:31.2

1974: 3 000-hindernis: 8:37.6

1974: 10 000: 28:16.2

1975: 3 000-H: 8:31.6

1975: 2 myl: 8:30.8

1975: 3 000: 7:51.8

1976: 3 000: 7:49.6

1977: 2 000: 5:02.8

1978: 5 000: 13:30.4

Bron: Modern Athlete

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.