Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Elana, Zola gaan jong talent help

Wie is dan nou beter as Elana Meyer, ’n Olimpiese silwermedaljewenner, en Zola Budd, ’n voormalige wêreldrekordhouer, om as mentors op te tree as jy in atletiek se middel- en langafstande wil spesialiseer?

Danksy die nuwe Stellenbosch-atletiekbeursprogram, wat in 2022 geloods word, sal 15 belowende jong atlete die kans kry om op die atletiekbaan deur dié twee legendes in Suid-Afrikaanse atletiek geslyp te word.

Elana Meyer (links), Nolene Conrad (middel) en Zola Budd vorm deel van die span wat toekomstige talent op die atletiekbaan in 2022 sal ontgin. Foto: David Papenfus

Die Athletics Foundation Trust (AFT) het kragte saamgespan met Endurocad en die Hoërskool Stellenbosch om voort te bou op die sukses wat dié borgskap reeds in die noorde by Tuks se sportskool behaal is en dit tot die suide van die land uit te brei.

“Die groot probleem is dat die ontwikkelingstrukture vir atlete in Suid-Afrika baie swak is. Dit hang bloot af van individuele afrigters en atlete,” het Meyer by navraag gesê.

Ongeslypte atletiekdiamante kan nou in die spore van atlete soos Clarence Munyai, Gift Leotlela, Sokwakhana Zazini en Sinesipho Dambile volg en met behulp van dié atletiekbeursprogram moontlik van Suid-Afrika se toekomstige sterre word. Al dié atlete was deel van Tuks se sportskool.

Endurocad word bestuur deur Meyer en Janet Welham, wat die afgelope agt jaar jong atlete gebrei het met ’n fokus op hul loopbaan-, persoonlike en atletiekontwikkeling.

Meyer sal boonop ondersteun word deur die langasem Nolene Conrad, wat sal optree as die atlete-bestuurder van die Stellenbosch-atletiekbeursprogram, terwyl die legendariese Budd, wat onlangs uit die VSA na Suid-Afrika teruggekeer het, ook haar kennis in die middelafstande sal deel.

“Die vennootskap gaan vir ons natuurlik ’n groot hupstoot wees. Dit gaan ons die kans gee om jong atlete op hoërskool al die geleentheid te gee en hopelik sal dit oorspoel na meer seniors wat kan presteer,” het Meyer gesê.

Die program begin in 2022 met die doelwit om talentvolle atlete (tussen gr. 8 en 10 in 2022) uit onderontwikkelde gebiede te identifiseer, waar daar min hulpbronne of geleenthede is om hul atletiese en akademiese vermoëns te ontwikkel.

Hierdie jong atlete sal ’n omvattende opvoeding ontvang deur aan die Hoërskool Stellenbosch skool te gaan en onder die vlerke van afrigters van wêreldgehalte in die Eikestad geneem te word.

Meyer het gesê dat dit wel nie realisties is om te verwag dat die onus net op dié program is om sukses op senior vlak te bevorder nie, maar dat dit wel ’n goeie beginpunt kan wees.

“Dit help nie atlete maak klaar met skool en het dan nie ’n daaropvolgende ondersteuningsnetwerk nie. Hierdie gaan nie die hele oplossing wees nie, maar behoort beslis ’n verskil, veral in die suide, te maak.

“Die grootste prestasies kom tans van Gauteng en Potchefstroom, so ons is baie opgewonde, want hierdie is een van die legkaartstukke wat ons benodig.”

“Ons staan ’n magdom plaaslike talent aan Amerikaanse universiteite af en selfs al neem hulle steeds vir Suid-Afrika deel, word die plaaslike stelsel steeds verswak.”

Sy het gesê die volgende uitdaging is om minstens juniors in die land met goeie strukture te probeer bystaan.

“Die vraag is steeds hoe ons die atlete op Olimpiese standaard gaan kry. Dit is waar die regering en die beheerliggame soos Saskok moet inkom. Hulle kan nie net elke vier jaar inkom en prestasies verwag as daar geen investering van hulle kant af is nie,” het Meyer bygevoeg.

Rose Juby, AFT se nasionale programbestuurder, sê die beurs gaan nie net op die atletiek fokus nie.

“Geen sportloopbaan duur vir ewig nie. Ons wil hê dat jong atlete moet besef dat nie almal ’n professionele atleet gaan word nie, daarom word opvoeding as net so belangrik beskou.”

Atlete vanuit die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Suid-Kaap en Vrystaat kan aansoek doen en moet daarop let dat die skoolopleiding in Afrikaans sal geskied.

Die atletiekprogram sal fokus op naellope, middel- en langafstande, paalspring en resies-stap.

Sou kandidaat suksesvol wees, sal die beurs die atleet se skoolgelde, handboeke en skryfbehoeftes, skooluniforms, koshuisgelde, atletiekafrigting, sportsielkunde, sportvoeding, sportwetenskaplike benadering en toetsing dek.

Aansoeke kan hier gedoen word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.