Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Frith stuur boodskap aan Gerda Steyn

Gerda Steyn het Saterdag briljant in die Twee Oseane-wedloop gehardloop, sê Frith van der Merwe wat al 30 jaar die rekordhouer in dié wedloop oor 56 km hou.

Steyn het haar titel suksesvol verdedig met ’n haastige wentyd van 3:31:28. Dit is net meer as ’n minuut stadiger as Van der Merwe se tyd van 3:30:36 wat sy in 1989 opgestel het.

Die voormalige Olimpiese marathonatleet René Kalmer (regs) by haar dogtertjie, Karli (2), en haar suster, Christine, ook ‘n Olimpiese marathonatleet nadat sy haar eerste Twee Oseane-wedloop voltooi het. Sy was 11de. Foto: Sarel van der Walt

Oomblikke nadat die 29-jarige Steyn oor die eindstreep gehardloop het, het Van der Merwe aan dié joernalis ’n boodskap gestuur: “As jy vir Gerda sien, sê asseblief vir haar ek wens haar geluk met ’n briljante wedloop.”

Steyn was so opgewonde soos ’n kind toe sy die boodskap van die eertydse koningin van die Comrades sien. “Sjoe, van Frith af! Ag dis dierbaar van haar.”

Sy het dadelik vir Van der Merwe ’n boodskap teruggestuur: “Baie, baie dankie vir jou mooi boodskap. Ek waardeer dit uit die diepte van my hart.”

Van der Merwe het destyds die rekord op ’n ander roete gehardloop.

Steyn, wat verlede jaar tweede in die Comrades was, het voor die wedloop gesê Van der Merwe se rekord sal nie maklik oortref word nie.

“Om Frith se rekord te oortref moet jy in staat wees tot ’n 2:27-marathon,” het Steyn gesê wat verlede jaar ’n tyd van 2:31:04 in die New York-marathon gehardloop het.

Irvette van Zyl (3:41:31) wat derde was, het ’n moeilike dag op die pad beleef en was ná die wedloop in trane. Moeder Natuur het haar vier keer bosse toe geroep.

‘n Teurgestelde Irvette van Zyl is in trane ná Saterdag se Twee Oseane-wedloop. By haar is Adriaan Cronjé van die Netbank-klub. Foto: Sarel van der Walt

“Ek is nie iemand wat in wedlope loop nie, maar ek moes dit vandag ’n paar keer doen weens erge maagkrampe.”

Die voormalige Olimpiese marathonatleet René Kalmer wat aan haar eerste Twee Oseane deelgeneem het, moes met die 11de plek – een van die slegste posisies in padwedlope omdat dit net een posisie buite die tien gouemedaljewenners was – tevrede wees.

Maar, op haar gesig was ’n glimlag.

Sy het die laaste paar jaar met beserings gesukkel en boonop drie weke gelede ’n kuitspier geskeur.

“Dit was lékker dankie! Ek het geen probleme met my heupe gehad nie. Ook nie met die kuitspier nie,” het sy gesê.

Kalmer is by die eindpunt ingewag deur haar tweejarige dogtertjie, Karli, en haar suster en oefenmaat, Christine, ook ‘n Olimpiese marathonatleet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.