Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Galopsop-skok: 2de SA vrou geskors

Suid-Afrikaanse atletiek is ’n groot terugslag toegedien met die skorsing van die naelloper Tebogo Mamathu, wat ’n opkikkertoets gedop het nadat verbode middels in haar sisteem gevind is.

Tebogo Mamathu (links) en die Ivoorkus se Murielle Ahouré in ’n stryd gewikkel in die 100 m op verlede jaar se Wêreldkampioenskap in Doha. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) het Woensdag bekend gemaak dat Mamathu, naas Carina Horn die voorste 100 m-vroueatleet in Suid-Afrika, vir vier jaar geskors is.

Mamathu is op 21 Mei in kennis gestel daarvan dat sy ’n reël met betrekking tot opkikkers oortree het met verbode middels wat in haar A-monster gevind is nadat sy op 23 Februarie getoets is.

Volgens Saids is sy positief getoets vir die oksandroloon-metaboliete Ox M1 en Ox M2, middels wat ’n aansienlike groter effek as testosteroon het op die toename in spiergrootte en krag en ook gebruik word om liggaamsvet te verminder.

Mamathu het ná die eerste toets gevra dat haar B-monster ook getoets word.

Dié se uitslag was ook nie in haar guns nie met die 24-jarige wat in September hiervan ingelig is, voordat Saids vir Atletiek Suid-Afrika (ASA), Wêreldatletiek en die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada) ook moes inlig.

“Die atleet het sedert sy ingelig is oor die uitslag van die toets vir verbode middels haar samewerking vir Saids gegee,” het Saids gesê.

“Die atleet het dadelik die teenwoordigheid (van die opkikker) erken. Sy kon egter nie bewys waar die verbode middel vandaan kom nie aangesien sy nie meer die oorspronklike houers of bewys van betaling vir haar aanvullings het nie.

“Die atleet het na bewering groot bedrae uitgegee op die toetsing van produkte wat sy ingeneem het voordat sy haar urinemonster verskaf het, maar die meeste van dié produkte is nie dieselfde as die produkte wat sy gebruik het voor haar toets (vir opkikkers) nie.”

Saids sê verder dat Mamathu nie die produk kon kry wat sy oorspronklik gebruik het nie, aangesien sy glo alles ingeneem het wat sy in haar besit gehad het.

Carina Horn in volle vaart op die Wêreldkampioenskap in Londen in 2017. Foto: Getty Images

“Daarom kon geen verdere toetse gedoen word om te wys dat daar nie nalatigheid aan die kant van die atleet was nie,” het Saids gesê.

Die toetsliggaam sê verder dat daar ook geen bewyse is dat Mamathu onopsetlik opgetree het nie.

“Sy is ’n internasionale atleet wat aan deeglike voorligting blootgestel sou wees rakende die gebruik van verbode middels.”

Mamathu se skorsing kan tot twee jaar verminder word indien sy wel genoegsame bewys kan lewer dat sy onopsetlik die middels gebruik het.

Haar skorsing is geldig van 23 Februarie 2020 tot 23 Februarie 2024.

Vir Suid-Afrika se Olimpiese planne is dit ’n groot terugslag.

Mamathu spog met ’n persoonlike beste in die 100 m van 11.04 sekondes, ’n tyd wat sy verlede jaar opgestel het en van haar die tweede vinnigste vrou in die Suid-Afrikaanse geskiedenis maak.

Die vinnigste, Horn (10.98), is self al geruime tyd op die kantlyn nadat sy in 2019, kort voor die Wêreldkampioenskap in Doha, positief vir Ibutamoren en LGD-4033 getoets is.

Sy is sedertdien in ’n stryd met Atletiek se Integriteitseenheid (AIU) gewikkel om haar onskuld te bewys, maar dié saak sloer al meer as ’n jaar met die nasionale rekordhouer wat voorlopig geskors bly.

Horn sal hoop dat sy die groen lig kry voor volgende jaar se Tokio Spele.

Meer oor:  Atletiek  |  Verbode Middels  |  Saids  |  Skorsing  |  Carina Horn  |  Opkikkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.