Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Geen marathon vanjaar in die Moederstad

Eers die Twee Oseane, toe die Comrades, daarna die Soweto-marathon en Maandag is die Kaapstad-marathon ook afgelas.

Dit beteken daar sal vanjaar geen groot padwedlope in Suid-Afrika wees nie.

Massa-byeenkomste soos die Kaapstad-marathon is weens Covid-19 vir eers van die baan. Foto: Gallo Images

Die marathon in die Moederstad, die enigste een in Afrika met goue status van Wêreldatletiek, sou op 18 Oktober plaasgevind het.

Die organiseerders was in Mei nog hoopvol dat die Covid-19-pandemie teen daardie tyd onder beheer sou wees. Hulle moes intussen ná lang gesprekke en debatvoering egter die besluit neem om die wedloop af te gelas.

Meer as 10 000 deelnemers van verlede jaar se 22 375 Suid-Afrikaners wat gehardloop het, was van ander provinsies en daar is nog geen aanduiding wanneer binnelandse vlugte heeltemal in bedryf sal wees nie.

Die Soweto-marathon, wat eers op 1 November sou plaasvind, is verlede week afgelas.

Aleck Skhosana, president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), sê in ’n verklaring dit was ’n moeilike besluit om die Kaapstadse wedloop te kanselleer, want dit dien ook as die nasionale marathon-byeenkoms.

“Dit is die enigste marathon met goue status in Afrika en is ’n invloedryke nasiebouer én het ’n groot ekonomiese invloed,” sê Skhosana.

Francois Pienaar, voorsitter van dié byeenkoms, sê die besluit was nie maklik nie, maar is geneem nadat alle moontlikhede bekyk is.

“Die realiteit is eenvoudig dat ons nie die gesondheid en welstand van ons deelnemers, vrywilligers, ondersteuners en vennote aan risiko’s kan blootstel nie.”

JP Smith van die Kaapstad-metro sê Suid-Afrika is saam met die res van die wêreld in ’n ernstige krisis, wat vir eers ’n einde aan byeenkomste met massadeelname gemaak het.

Daar is darem goeie nuus vir langasems. Die byeenkoms se virtuele marathon, halfmarathon, asook die pretwedlope oor 5 en 10 km sal voortgaan.

Atlete, ook dié oorsee, kan op 18 Oktober in hul eie woonbuurt of provinsie aan die wedloop van hul keuse deelneem.

Met die Kaapstad-marathon se app sal deelnemers die volle ervaring kan geniet, asof hulle die gewone roete hardloop.

’n Deelnemer se tyd sal geneem word en hy sal sy virtuele vordering aan die gebruiklike roete en bakens in en om die Moederstad kan meet.

Met vooraf-opgeneemde klank sal ’n atleet steeds die Kaapse ervaring kan geniet – van die seremonie en aansteek van die fakkel by die beginpunt, die breek van die branders en die seemeeue, asook die aanmoediging van ondersteuners en die Kaapse Klopse.

* Deelnemers wat reeds ingeskryf het, kan hul geld terugkry of dit aan die Peninsula School Feeding Association en Gemeenskapskas skenk.

Meer oor:  Atletiek  |  Koronavirus  |  Kaapstad-Marathon  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.