SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Atletiek
Goud vir Affies se lemnaeler in Doebai

Die lemnaeler Ntando Mahlangu het Donderdag Suid-Afrika se tweede goue medalje verower toe hy die 200 m (T61) by die Paralimpiese Wêreldkampioenskappe in Doebai gewen het.

Ntando Mahlangu het Donderdag goud in die 200 m (T61) gewen nadat hy in 2017 in Londen silwer verower het. Foto: Getty Images

Die 17-jarige leerling van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria het ’n nuwe byeenkomsrekord in dié afdeling opgestel met sy sege in 23.23 sekondes.

Hy het hiermee ook die Brit Richard Whitehead se oorheersing by die byeenkoms sedert 2011 tot ’n merkwaardige einde gebring.

Mahlangu moes in 2016 by die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro en ook in 2017 by die Wêreldbyeenkoms in Londen elke keer met silwer tevrede wees.

Whitehead het albei dié wedlope gewen, maar die Brit se partytjie is die slag bederf.

Die 43-jarige Whitehead het die eerste 100 m by Mahlangu kers vasgehou, maar moes daarna in die Suid-Afrikaner se rug vaskyk.

Hy het silwer gewen in ’n seisoensbeste tyd van 23.82, terwyl die Duitser Ali Lacin brons ontvang het in 24.63.

Mahlangu het in Augustus in Nottwill, Switserland die wêreldrekord tot 23.03 verbeter.

Whitehead is in 2011, 2013, 2015 en in 2017 as wêreldkampioen in die 200 m (T42) gekroon, voordat die afdelings verander het en atlete nou onder die T61-afdeling – atlete wat met prostetiese bene hardloop – deelneem.

Die 19-jarige Obed Lekhehle, ’n oud-leerder van die Hendrik Potgieter Agricultural School in Reddersburg, het negende geëindig in die hoogspring (T42 vir atlete wat sonder prostese deelneem, maar ’n ledemaat-gestremdheid het).

Hy het op ’n hoogte van 1,55 m oor die dwarslat geseil, maar op 1,59 m uitgeval.

Die Amerikaner en tweemalige wêreldkampioen Sam Grewe het sy derde wêreldtitel op ’n hoogte van 1,86 m verower.

Die Paralimpiese kampioen Mariyappan Thangavelu van Indië het brons met sy 1,80 m ontvang.

Sheryl James het gemaklik gekwalifiseer vir die eindronde van die 200 m (T37 vir atlete met ’n serebrale gestremdheid), toe sy die wenstreep in 27.98 sek. oorgesteek het vir ’n tweede plek in die uitdunne.

Met dié uitslag het sy Johanna Benson van Namibië se Afrika-rekord van 29.18, wat sedert 2013 gestaan het, met meer as ’n sekonde verpletter.

Benson was self in die uitdunne in aksie, maar het uitgeval met ’n derde plek in 29.89.

Liezel Gouws was in die tweede uitdun vierde in 29.73 en kon nie ’n plek in die eindronde bespreek nie.

Die langasem Louzanne Coetzee het ook beïndruk in die uitdunne van die 1 500 (T11 vir atlete met swak sig).

Sy het saam met haar gids, Xavier Adams, die wedloop in 4:59.22 voltooi om deur te dring tot Vrydag se eindronde. Monica Rodriguez van Mexiko was algeheel die vinnigste in 4:53.63.

* Mahlangu se goue het Suid-Afrika se medaljetotaal na 11 (twee goud, drie silwer en ses brons) opgestoot.

Meer oor:  Doebai  |  Ntando Mahlangu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.