Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Goue aand vir Amerika se atlete in Doha
Noah Lyles vier sy sege in die 200 m in Doha. Foto: Reuters

Dit was ’n goue aand vir Amerika by die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) se Wêreldkampioenskap in Doha.

Die Amerikaners het Dinsdagaand met eerste plekke in die 200 m, 800 m en paalspring afgesluit en verseker dat hulle met 16 medaljes (sewe goud, sewe silwer en twee brons) nie sommer ingehaal sal word op die medaljetabel nie.

Noah Lyles het onder die druk floreer en is as die nuwe 200 m-wêreldkampioen gekroon nadat hy die aanslag van Andre de Grasse van Kanada afgeweer het om in 19.83 sekondes te wen.

De Grasse het in 19.95 sy tweede medalje van die byeenkoms opgeraap nadat hy in die 100 m ook op die podium was. Alex Quinónez van Ecuador het brons gevat in 19.98.

Donavan Brazier het die eerste Amerikaanse man tot nog toe geword om die 800 m te wen op die wêreldbyeenkoms toe hy ’n nasionale rekord in 1 minuut, 42.34 sekondes opgestel het vir sy goue medalje. Dit het Johnny Gray se rekord, wat 34 jaar lank gestaan het, oortref en was boonop ook ’n byeenkomsrekord.

Donavan Brazier het die eerste Amerikaanse man nog geword om die 800 m te wen by die wêreldbyeenkoms. Foto: Reuters
Sam Kendricks het sy wêreldtitel suksesvol verdedig in die paalspring in Doha. Foto: Reuters

Sam Kendricks het sy titel in die paalspring verdedig ná ’n taai stryd teen die Sweedse tiener, Armand Duplantis.

Albei was suksesvol op ’n hoogte van 5,97 m, maar Kendricks was met sy eerste poging suksesvol op 5,92 m, wat eindelik die eerste plek aan hom besorg het nadat nie een van hulle op 6,02 m oor die dwarslat kon seil nie.

Die Australiër Kelsey-Lee Barber het met haar heel laaste poging in die spiesgooi Chinese harte gebreek toe sy goud voor die neus van Shiying Liu opgeraap het.

Barber het ’n haas uit die hoed gepluk en met 66,56 m vir Liu, wat silwer gevat het met ’n afstand van 65,88 m, geklop.

Liu het haar beste poging in die vyfde en tweede laaste ronde vermag net om te sien hoe Barber se spies ’n ronde later verby haar merk trek.

Nietemin het China ook die bronsmedalje gevat met Huihui Lyu se 65,49 m.

Die 400 m-eindronde vir vroue beloof om die toeskouers Donderdag op die punte van hul stoele te hou.

Dit volg nadat die Bahamas se Shaunae Miller-Uibo en Salwa Eid Naser van Bahrein albei onder 50 sekondes in die halfeindronde gehol het.

Miller-Uibo was algeheel die vinnigste met haar eerste plek in die tweede halfeind in 49.66 sek. terwyl Naser in die eerste ’n haastige tyd van 49.79 gehardloop het.

Die verdedigende wêreldkampioen en Amerikaner Phyllis Francis (50.22) en die voormalige Statebondkampioen en Jamaikaan Stephenie Ann McPherson (50.70) kan ook nie onderskat word nie. 

Die vroue se 200 m-halfeind het vir ’n verrassing gesorg met die onttrekking van die Olimpiese kampioen Elaine Thompson. Dit het die speelveld wyd oopgemaak voor Woensdag se eindronde.

Die Brit Dina Asher-Smith, wat reeds silwer in die 100 m gewen het, was die vinnigste in 22.16 sek. terwyl die VSA se Brittany Brown ook oortuig het in 22.46.

Nog ’n Amerikaner, Anglerne Annelus, en Switserland se Mujinga Kambundji het met 'n tyd van 22.49 gewys dat hulle ook ernstige aanspraakmakers op medaljes is.

China is tans tweede op die medaljetabel met agt (twee goud, drie silwer, drie brons), met Jamaika in die derde plek met vier (twee goud en twee brons).

Meer oor:  Katar  |  Doha  |  Iaaf  |  Wêreldkampioenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.