Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Goue Gerda hardloop blitsige 10 km
Gerda Steyn ná haar haastige tyd in die New York-marathon verlede jaar. Foto: Getty Images

Gerda Steyn, die Comrades- en Twee Oseane-kampioen, het Vrydag in Doebai in die Verenigde Arabiese Emirate haar vinnigste 10 km-wedloop tot nog toe gehardloop.

Die 29-jarige Steyn het haar derde agtereenvolgende oorwinning in die padwedloop daar behaal met ’n haastige tyd van 32 minute en 24 sekondes.

Sy het haar vorige beste tyd van 33:05 in September verlede jaar in Middlesborough, Engeland, opgestel.

Steyn, wat in November verlede jaar in die New York-marathon slegs die vyfde Suid-Afrikaanse vrou geword het wat ’n marathon in vinniger as 2:30 kon hardloop, se 2:27:48 in dié wedloop het haar vir die marathon by vanjaar se Olimpiese Spele in Japan laat kwalifiseer.

Die Spele-marathon sal nou haar fokus vir die jaar wees.

“Ek is baie tevrede met my uitslag. Dit was nou my derde oorwinning op ’n ry, maar dié een was spesiaal,” het Steyn gesê.

Sy het uit Doebai aan Netwerk 24 gesê dit was bewolk en lekker weer om in te hardloop.

Nick Bester, die voormalige Comrades-kampioen wat Steyn afrig, sê hy het voor Vrydag se wedloop vir Steyn gesê hy voorspel op grond van haar tye in oefeninge ’n tyd van 32:54.

“Toe verras sy my met ’n 32:24.”

Colleen de Reuck wat die SA marathonrekordhouer is met ’n tyd van 2:26:35 (Berlyn, 1996), se vinnigste 10 km-tyd was 31:48.

Ek sal graag albei (die Spele en die Comrades) wil doen, maar ek verstaan dit sal dalk nie so kan uitwerk nie.
Gerda Steyn

Bester sê Steyn sal op 10 April aan die Twee Oseane-wedloop oor 56 km in die Kaapse Skiereiland deelneem, maar sal waarskynlik nie op 9 Junie vir haar geliefde Comrades aantree nie.

Steyn, wat Saterdag terugkeer Suid-Afrika toe, sê sy “hou ook maar nog alles dop, want dit sal ’n baie moeilike besluit wees om nie Comrades te hardloop nie”.

“Ek sal graag albei (die Spele en die Comrades) wil doen, maar ek verstaan dit sal dalk nie so kan uitwerk nie.”

Die Nedbank-atleet hoop ook om aan die einde van Maart aan die Wêreld-halfmarathonkampioenskap in Pole deel te neem.

“Daar is genoeg tyd vir haar om ná die Twee Oseane te herstel voor die Spele,” sê Bester.

Die Olimpiese marathon vir vroue sal op 8 Augustus in Sapporo, sowat 800 km noord van Tokio, gehardloop word. Die marathon- en stapwedlope is na Sapporo verskuif omdat dit daar koeler as in Tokio is, waar die hitte en humiditeit vir ondraaglike toestande kan sorg in die somer.

“Haar vaart het al baie verbeter, maar ons gaan nog baie vaartwerk doen voor die Spele,” sê Bester.

Meer oor:  Marathon  |  Comrades  |  Nick Bester  |  Twee Oseane  |  Padwedlope  |  Gerda Steyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.