Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Goue Gerda kook in Dubai-wedloop

Daar is eenvoudig geen keer aan die langasem Gerda Steyn nie.

Die 30-jarige Comrades-wenner het haar naasbeste tyd tot nog toe gehardloop toe sy ’n oorwinning gesmaak het in die Supersports-10 km-nagwedloop in Dubai.

Gerda Steyn toe sy in 2019 die New York-marathon voltooi het. Foto: Getty Images

Steyn het dié wedloop gebruik as voorbereiding vir die Ras al-Khaimah (Rak)-halfmarathon, wat sedert 2007 ’n jaarlikse wedloop in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) is.

Die 10 km-wedloop het eers in die aand weggespring om die ergste humiditeit in die woestynstad vry te spring.

“Ek is baie gelukkig met my wedloop en tyd, veral wanneer in ag geneem word dat ek en my afrigter, Nick Bester, tans met ’n veeleisende oefenprogram besig is vir die Rak-halfmarathon,” het Steyn luidens ’n verklaring gesê.

“Ek was baie beïndruk met my tyd van 32:33 vir die 10 km-wedloop, want wanneer jy in die middel van só ’n oefenprogram is, dan is dit moeilik om jou in te dink dat jy moet hardloop wanneer die pas oor enige afstand uitmergelend voel.”

Bester, wat ook spanbestuurder van die Nedbank-hardloopklub is, se kennis en leiding is jaar in en jaar uit deurslaggewend daarin om Steyn deurlopend te laat verbeter. Dié duo werk nou al vyf jaar saam.

“Ek werk daaraan om beseringsvry te bly met ’n fokus op die herstelproses tussen sessies. Ek maak ook seker dat ek goed voorbereid is op elke oefensessie, want dit gaan nie net oor jou vertoning op die dag (van wedlope) nie, maar ook al die voorafgaande klein boustene wat jou help om jou doelwitte te bereik.”

Met ’n persoonlike beste tyd van 1:10:55 in die Rak-halfmarathon, wat sy verlede jaar opgestel het, het Steyn nog nie ’n aanduiding gegee van die tyd wat sy vanjaar in haar visier het nie. Dit sal egter nie verregaande wees om te verwag dat sy heelwat op haar vorige beste gaan verbeter en ’n tyd van onder 70 minute kan hardloop nie.

“Ek het voorheen die Rak-halfmarathon gebruik ter voorbereiding vir groter wedlope, soos ’n marathon of die Twee Oseane-wedloop, maar weens die Covid-situasie het ek besluit om dié wedloop my hoofteiken te maak. Omdat dit die mededingendste halfmarathon ter wêreld is, met só baie wêreldrekordhouers en kampioene wat deelneem, sal dit beslis weer ’n vinnige een wees.”

Die Rak-halfmarathon sal op 19 Februarie plaasvind.

Elana Meyer se Suid-Afrikaanse halfmarathon-rekord van 1:06:44 staan al sedert 1999.

Meer oor:  Atletiek  |  Padwedloop  |  Dubai  |  Gerda Steyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.