Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Goue Gerda mik in New York na 2:30-grens
Gerda Steyn ná haar epiese oorwinning in vanjaar se Comrades. Foto: Gallo Images

Gerda Steyn, die Comrades- en Twee Oseane-kampioen, hoop om Sondag slegs die vyfde Suid-Afrikaanse vrou te word om die marathon in minder as die droomgrens van 2 uur en 30 minute af te lê.

Die 29-jarige Steyn sal Sondagmiddag (SA tyd) vir haar tweede New York-marathon aantree.

“My mikpunt Sondag is om die Olimpiese kwalifiserende maatstaf van 2:29:30 te oortref. ’n Ander mikpunt is om dié keer onder die voorste tien vroue te eindig,” het Steyn uit New York aan Netwerk24 gesê.

Sy was verlede jaar 13de in 2:31:04.

Die vier ander Suid-Afrikaanse vroue wat al vinniger as 2:20 kon hardloop, is Colleen de Reuck (2:26:35, Berlyn, 1996), Elana Meyer (2:27:17, Boedapest, 2001), Frith van der Merwe (2:27:15, Port Elizabeth, 1990) en René Kalmer (2:29:27, Berlyn, 2014).

Steyn, wat deur Nick Bester, wenner van die Comrades in 1991 afgerig word, het vanjaar Van der Merwe se 30 jaar oue mantel as Suid-Afrika se koningin van ultra-wedlope oorgeneem, met voortreflike vertonings in die Twee Oseane én die Comrades.

Sy het in die Comrades die eerste vrou geword wat in minder as ses uur (5:58:53) van Durban tot in Pietermaritzburg kon hardloop.

In die Twee Oseane (3:31:21) het sy net-net Van der Merwe se rekord misgeloop – en dit op ’n roete wat moeiliker was as dié waarop Van der Merwe in 1989 haar rekord (3:30:36) opgestel het.

Ek wil baie graag weer volgende jaar aan die Twee Oseane en die Comrades deelneem, maar sal eers sien wat Sondag hier in New York gebeur voordat ek ’n finale besluit neem.
Gerda Steyn

“Ek wil baie graag weer volgende jaar aan die Twee Oseane en die Comrades deelneem, maar sal eers sien wat Sondag hier in New York gebeur voordat ek ’n finale besluit neem,” sê die Nedbank-atleet.

Steyn het Dinsdag in New York aangekom. Twee van haar landgenote, Willie Mtolo (1992) en Hendrick Ramaala (2004), het al die New York-marathon gewen.

Verlede jaar het sowat 53 000 atlete uit 129 lande aan die wedloop deelgeneem.

“Dit is op die oomblik reënerig en die humiditeit is hoog, maar vir Sondag word lekker hardloopweer voorspel. “Dit sal waarskynlik koud wees met ’n kalm wind en sonskyn.”

Die gewilde nuwe Comrades-koningin het Suid-Afrikaners in New York wat nie Vrydagoggend werk nie, genooi om 10:00 die oggend (New York-tyd) in Central Park saam met haar te gaan draf.

Dit sal haar laaste oefensessie voor Sondag se wedloop wees.

Die Keniaan Mary Keitany. Foto: Getty Images

Die Keniaan Mary Keitany wat verlede jaar die afdeling vir vroue in 2:22:48 gewen het, sal haar titel verdedig. So ook die Ethiopiër Lelisa Desisa (2:05:59), wat sy titel in die afdeling vir mans sal verdedig.

Shalane Flanagan, wat in 2017 die eerste Amerikaner in 40 jaar kon word om die afdeling vir vroue te wen, het onlangs aangekondig sy is klaar met mededingende deelname.

Dedisa se wentyd verlede jaar was die naas vinnigste in die geskiedenis van die New York-marathon.

Die Keniaan Geoffrey Kamworor, wat in 2017 eerste in Cetral Park oor die wenstreep gehardloop het, sal ook Sondag aantree.

* Die Suid-Afrikaner Ernst van Dyk, ’n tienmalige wenner van die Boston-marathon wat in 2005 en 2015 ook in New York gewen het, sal weer in die afdeling vir rolstoelatlete deelneem. Hy was onlangs net-net derde in die Chicago-marathon.

* TV: Sondag vanaf 16:10 (SS 11).

Meer oor:  Mary Keitany  |  Gerda Steyn  |  New York  |  Marathon  |  Kampioen  |  Comrades  |  Langasem  |  Padwedlope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.