
Lawrence Cherono van Kenia en Ethiopië se Worknesh Degefa het 2019 se Boston-marathon gewen. Foto: Getty Images
Die Boston-marathon, wat verlede jaar die eerste keer ooit gekanselleer is, sal vanjaar op 11 Oktober plaasvind – as padwedlope dan in Massachusetts toegelaat word.
Al ses die groot marathons sal vanjaar oor ’n periode van ses weke plaasvind. Die wedloop in Berlyn sal langasems se aksie op 26 September inlui.
Die Boston-atletiekvereniging (BAA), wat die wedloop reël, sê hy sal later bekend maak hoeveel deelnemers toegelaat sal word. Daar is gewoonlik 30 000 deelnemers aan dié prestigeryke marathon.
Die organiseerders sê hulle kondig die datum “versigtig optimisties” aan.
Hulle sal egter voortgaan om nou saam te werk met plaaslike gesondheidsowerhede en die veiligheid van almal betrokke bly hul prioriteit.
Die Boston-marathon is vanaf 1897 jaarliks gehou, buiten verlede jaar toe dit eers van April tot September uitgestel en later afgelas is. – Reuters
• Groot marathons in 2021:
7 Aug: Spele – vrouemarathon;
8 Aug: Spele – mansmarathon;
26 Sept: Berlyn;
3 Okt: Londen;
10 Okt: Chicago;
11 Okt: Boston;
17 Okt: Tokio; en
7 Nov: New York.