Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Harmse (45) maak jag op 24ste titel

Toeskouers by die Herman Immelman-stadion in Germiston kan vandeesweek, wanneer die Suid-Afrikaanse Atletiek-kampioenskap daar plaasvind, moontlik sien hoe ’n atletiek-wêreldrekord nogmaals verbeter word.

Chris Harmse het ’n 24ste titel in die hamergooi in sy visier by die Suid-Afrikaanse Atletiek-kampioenskap in Germiston. Foto: Gallo Images

Chris Harmse, die hamergooier met die bekende poniestert, is die atleet wat bes moontlik vir dié prestasie kan sorg.

Hy kan sy eie wêreldrekord verbeter as die atleet wat al die meeste as ’n nasionale kampioen gekroon is wanneer hy Vrydagmiddag omstreeks 16:00 aantree.

Hy sal as 45-jarige jag maak op sy 24ste nasionale titel, nadat hy in 2018 goud gewen het met ’n afstand van 70.69 m.

“Dit sal lekker wees om deel te neem sonder dat ek kruppel is, want die laaste twee jaar het ek met beserings gesukkel by die SA’s,” het Harmse by navraag gesê.

“Ek voel egter nou goed en het niks wat kwel nie.”

Hy het reeds vanjaar ’n paar byeenkomste agter die rug en ’n afstand van 70.73 m behaal om sy litte los te maak.

Harmse het in 1994 vierde in die SA’s klaargemaak, waarna hy in 1995 sy eerste podiumplek behaal het met ’n bronsmedalje. Sedert 1996 is hy egter nog elke jaar as die SA kampioen gekroon.

Die wêreldkampioene Caster Semenya en Luvo Manyonga sal sonder twyfel van die grootste trekpleisters in Germiston wees.

Semenya het in 2018 die 1 500 m (4:10.68) gewen voordat sy haar vinnigste tyd tot nog toe binne Suid-Afrika se grense in die 800 (1:57.80) gehardloop het.

Clarence Munyai gaan met die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 100 m, Akani Simbine, moet afreken indien hy in Germiston as die nasionale 200 m-kampioen gekroon wil word. Foto: Gallo Images

En terwyl Semenya en die wêreld asem ophou oor die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) se uitspraak rakende die deelname van vroue met natuurlike hoë testosteroonvlakke, sal sy gewis nie toelaat dat dié kwessie haar vertonings op die baan beïnvloed nie.

Manyonga sal op sy beurt die strawwe kompetisie van Ruswahl Samaai en Zarck Visser moet afweer as hy ’n derde agtereenvolgende titel in die verspring wil buit.

In die vroue se 400-hekkies kan die wedywering tussen die ervare Wenda Nel en die belowende tiener Zeney van der Walt vir ’n groot hoogtepunt sorg.

Verlede jaar was dié twee blitse in ’n naelbytwedloop by die SA byeenkoms betrokke, met Nel toe net-net baas in 55.01 sekondes. Van der Walt was tweede in 55.05.

Nel is die bronsmedaljewenner in die 400-hekkies by die Statebondspele verlede jaar en sal poog om haar negende titel in dié nommer by die Suid-Afrikaanse kampioenskap te verower. Sy het dit tussen 2010 en 2018 net een jaar nie agter haar naam geskryf nie, in 2013.

Sy spog boonop met ses goue medaljes in die 4x400-aflos en is deurlopend ’n faktor op die baan.

Van der Walt het verlede jaar nog in die skoolbanke van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria gesit en is een van die belowendste jong atlete op die planeet. Sy spog in haar kort loopbaan reeds met die titels as die o.18- en o.20-wêreldkampioen.

Clarence Munyai het in 2018 die nasionale rekord in die 200 verpletter in 19.69 sekondes, maar kon daarna nie een keer naby aan daardie tyd kom nie, met ’n besering wat sy seisoen in die wiele gery het.

Munyai moet egter in Germiston bewys dat sy vertoning verlede jaar nie net ’n gelukskoot was nie. Hy sal ook met die Statebond-kampioen in die 100, Akani Simbine, moet afreken.

Simbine se vinnigste tyd in die 200 is die 19.95, wat hy in 2017 in Pretoria gehardloop het.

* Die aksie in Germiston begin Donderdagoggend en duur tot Saterdagaand. Kaartjies kos R50 per persoon en is by die hekke beskikbaar.

Meer oor:  Atletiek  |  Clarence Munyai  |  Germiston  |  Chris Harmse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.