Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
IAAF in sy noppies dat Caster weer ‘gehok’ is

Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) het Woensdag sy tevredenheid daarmee uitgespreek dat sy nuwe testosteroon-regulasies weer op Caster Semenya afgedwing mag word.

Caster Semenya erken die skare se applous by die Prefontaine Classic in Stanford, Kalifornië, op 30 Junie. Foto: Getty Images

Dít volg nadat ’n Switserse regter Maandag beslis het dat die Suid-Afrikaanse tweemalige Olimpiese kampioen weer onderhewig is aan die IAAF se regulasies waarvolgens DSD-atlete (vroueatlete met hiperandrogenisme, wat seksueel ongewoon ontwikkel het) nie aan die atletieknommers tussen 400 m en die myl mag deelneem sonder dat hulle van medikasie gebruik maak om hul testosteroonvlakke te verlaag nie.

Dié regulasies is in Junie tydelik opgeskort deur die Switserse federale hooggeregshof hangende Semenya se appèlsaak teen die beslissing van die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS), ingevolge waarvan die IAAF se regulasies geldig verklaar is.

Die CAS is in Switserland gesetel.

“Dié beslissing skep gelykheid en duidelikheid vir alle atlete terwyl hulle voorberei vir die Wêreldkampioenskappe in Doha in September,” het atletiek se moederliggaam in ’n verklaring gesê.

“Die IAAF sal vir die duur van die appèlsaak volstaan by sy siening dat daar sommige kontekste is, met sport wat een van hulle is, waarbinne ’n persoon se biologiese samestelling as belangriker as geslagsidentiteit geag word. Daarom glo die IAAF (en die CAS het saamgestem) die DSD-regulasies is nodig, redelik en noodsaaklik om regverdige en betekenisvolle kompetisie in elite-vroueatletiek te beskerm.”

Die nuwe verwikkelinge beteken dat Semenya nie die geleentheid sal kry om haar 800 m-titel later vanjaar op die Wêreldkampioenskappe in Doha te verdedig nie.

Sebastian Coe, die hoof van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies. Foto: Getty Images

Semenya het Dinsdagaand in ’n verklaring gesê dat sy nie beïndruk is met die Switserse hof se ommeswaai nie.

“Ek is baie teleurgesteld daarin dat ek weerhou word daarvan om my welverdiende titel te kan verdedig, maar dit sal my nie verhinder om aan te hou veg vir die regte van al die vroueatlete wat hierdeur geraak word nie,” het sy gesê.

Semenya het al verskeie kere gesê dat sy nie die IAAF se voorgeskrewe medikasie sal neem nie. Tensy sy dus in langer afstande soos die 3 000 m hardloop, sal sy nie binnekort weer op die baan gesien word nie.

Volgens die regter se uitspraak is die appèlsaak nog nie afgehandel nie en hoort die jongste beslissing ook nie ’n invloed te hê op die uitslag van die appèl nie.

Daar word wel gesê die rede waarom die IAAF se regulasies weer tydelik van krag word, is omdat Semenya nie ’n oortuigende saak gestel het vir waarom dit in die eerste plek tydelik opgeskort moes word nie.

Meer oor:  Testosteroonvlakke  |  Iaaf  |  Caster Semenya
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.