Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
IAAF moet ‘Caster-reël’ herroep

Die studie waarop die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) sy sogenaamde “Caster-reël” gegrond het, is onbetroubaar en behoort herroep te word.

Caster Semenya op pad na haar sege in die 1 000 m in Berlyn die afgelope naweek. Foto: Getty Images

Só beweer die bekende Suid-Afrikaanse sportwetenskaplike Ross Tucker (van die Universiteit van Kaapstad) in ’n brief aan die Britse Tydskrif vir Sportgeneeskunde (BJSM).

Tucker en twee ander spesialiste in die veld het die data ontleed wat gebruik is om eindelik die IAAF te oortuig om ’n nuwe regulasie rakende vroue met natuurlik hoë vlakke van testosteroon van krag te maak.

Daarvolgens sal sulke atlete van November af gedwing word om medisyne te gebruik om hul testosteroonvlakke te verlaag indien hulle steeds aan sekere items wil deelneem.

Tucker, tesame met Roger Pielke jnr., ’n senior sportwetenskaplike by die Universiteit van Colorado Boulder en Erik Boye van die departement van biowetenskappe by die Oslo-universiteitshospitaal, het in April ’n versoek aan die BJSM gerig vir die data wat dr. Stéphane Bermon en Pierre-Yves Garnier gebruik het in hul studie oor die invloed wat hoër testosteroonvlakke op atlete se uitslae het.

Hoewel Bermon en Garnier die data vir hul studie aangestuur het, het hulle versuim om te noem dat ’n tweede studie geplaas is waarin daar erken word talle foute en onakkurate data is in die eerste studie gebruik. Die tweede studie het nuwe metodes gebruik wat daartoe gelei het dat van die bevindings van die eerste studie gewysig moes word.

Wat egter sonder twyfel is, is BG17 het onakkurate data gebruik en dus is die bevindinge onbetroubaar.
Ross Tucker

Nadat die data van die eerste studie herskep is, met ’n fokus op veral die vroue se 400 m, 400-hekkies, 800 en 1 500 (die nommers wat die IAAF uitgesonder het vir sy regulasie), het Tucker-hulle bevind dat foutiewe data gebruik is, wat eindelik groot verskille op die finale uitslae gehad het.

“Met betrekking tot die herskepping van die data het ons beduidende afwykings en foute in die data vir dié vier items gevind nadat die tye wat deur dr. Bermon verskaf is vergelyk is met die uitslae van die 2011 en 2013 se Wêreldkampioenskap (die byeenkomste wat gebruik is om die oorspronklike studie te doen),” sê Tucker in sy brief.

Hy sê hulle het verskeie foute gevind, wat selfs die gebruik van uitslae van atlete wat vir die gebruik van opkikkers geskors is, ingesluit het. Verder is talle atlete meer as een keer getel, terwyl van die uitslae ook duplikate was en daar geen atlete gevind kon word wat sommige van die toegekende uitslae behaal het nie.

Volgens Tucker is foutiewe data verantwoordelik vir tot 33% van die waardes wat in die eerste studie gebruik is vir die vroue se 400, 400-hekkies, 800 en 1 500.

“Gegewe die verspreiding van die foute, ag ons dit moontlik dat soortgelyke foute ook in die data van die 17 ander items vir vroue en die 22 vir mans gevind kan word en dalk selfs in die anonieme mediese data, wat die grondslag vir die studie se hoof-gevolgtrekking was rakende die uitwerking van hoër testosteroonvlakke op die uitslae,” skryf Tucker.

“Só ’n verspreiding van foute in die vier items waarvoor ons baie versigtig was tydens die herskepping van die data, trek die akkuraatheid van die hele ontleding in twyfel,” voeg hy by.

Toe Bermon sy data vir Tucker-hulle aangestuur het, het hy boonop nóg foute gemaak.

Ross Tucker. Foto: Gallo Images

Volgens Tucker het Bermon in sy brief aangedui dat hulle 230 waarnemings vir die tweede studie uitgelaat het, van die foute reggestel het en ’n aangepaste ontleding op 1 102 vroue atlete uitgevoer het. Tucker noem die herontleding het gewys dit was egter net 220 waarnemings wat uitgelaat is vir die tweede studie.

Die vergelyking tussen die eerste en die tweede studie het groot verskille duidelik gemaak met agt uit die 11 items (100, 100-hekkies, 200, 400, 400-hekkies, 800, 1 500, 3 000-hindernis, 5 000, 10 000 en marathon) waarna gekyk is, wat ’n kleiner verskil in die uitslae getoon het vir atlete met hoë testosteroonvlakke en diegene met normale vlakke. Trouens, in drie van die items het die uitslag verander van atlete met hoër testosteroonvlakke wat vinniger is na atlete met laer testosteroonvlakke wat vinniger is.

“Sonder toegang tot die mediese data en al die vertonings wat gebruik is in BG17 (die eerste studie), is dit onmoontlik om te weet waarom sommige atlete (se data) verwyder is en ander nie,” sê Tucker. “Wat egter sonder twyfel is, is BG17 het onakkurate data gebruik en dus is die bevindinge onbetroubaar.”

Kwantitatief én kwalitatief is dit (hoër testosteroonvlakke) glad nie soos om lank te wees in basketbal nie en ook nie soos om lang arms of voete te hê in swem nie.
Ross Tucker

Hy noem op sy webblad, sportsscientists.com, dat die saak oor atlete met hoër testosteroonvlakke ’n komplekse een is en nie ’n oplossing het wat almal sal gelukkig hou nie.

“Dit is sport se onoplosbare probleem,” skryf hy.

“Kwantitatief én kwalitatief is dit (hoër testosteroonvlakke) glad nie soos om lank te wees in basketbal nie en ook nie soos om lang arms of voete te hê in swem nie.

“Vir ’n beter vergelyking, dink aan Paralimpiese sport, waar mense met verskillende vlakke van gestremdhede verdeel word om regverdigheid te verseker. Of dink aan boks, waar verskillende gewigsafdelings bestaan om die kompetisie en die veiligheid van kleiner vegters te beskerm.

“In dié sportsoorte het ons besluit dat ’n voordeel die betekenis van die kompetisie verander en daarom skep ons kategorieë vir die ‘benadeeldes’ wat die kompetisie se integriteit beskerm.”

Tucker meen ’n vorm van regulasie is wel belangrik, maar dit kan nie ingestel word gegrond op die navorsing deur Bermon en Garnier nie.

Meer oor:  Testosteroonvlakke  |  Iaaf  |  Ross Tucker  |  Caster Semenya
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.