Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
IAAF stuit twee Olimpiese kampioene

Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) het twee voormalige Olimpiese kampioene deelname aan die Wêreldkampioenskap in Doha, Katar, geweier.

Atletiek se internasionale beheerliggaam het Dinsdag 11 Russe toestemming gegee om as neutrale atlete deel te neem, maar die deur vir 18 ander toegeklap.

Anna Chicherova van Rusland sal nie vanjaar in die hoogspring by die Wêreldkampioenskap kan deelneem nie. Foto: Getty Images

Onder diegene wat nie neutrale status gekry het nie, tel Anna Chicherova en Elena Lashmanova, wat albei in 2012 goud by die Olimpiese Spele in Londen verower het.

Hulle sal derhalwe nie hul slag in Katar kan wys nie.

Russiese atlete kan net aan baan- en velditems by internasionale byeenkomste deelneem mits hulle genoegsame bewyse aan die IAAF kan lewer dat hulle nie baat gevind het by enige staatsgesteunde programme vir die gebruik van verbode middels nie.

Aan dié wat wel die IAAF tevrede stel, word dan “neutrale status” (ANA) toegeken, wat beteken dat hulle aan byeenkomste mag deelneem as neutrale atlete, maar nie onder die Russiese vaandel nie.

Die 37-jarige Chicherova het in 2012 in Londen die hoogspring gewen en was ook die wêreldkampioen in 2011. In 2015 het sy brons by die Wêreldbyeenkoms in Beijing verower, voordat sy in 2016 positief getoets het vir die gebruik van ’n verbode middel.

Sy het vanjaar by die Russiese nasionale binnenshuise kampioenskap op ’n hoogte van 2.01 m oor die dwarslat geseil, waarmee sy die wêreldrekord vir atlete bo 35 geëwenaar het. Dié uitslag word egter nie erken nie, omdat dit binnenshuis behaal is.

Die 27-jarige Lashmanova was net 20 toe sy die 20 km-stapwedloop se wêreldrekord verbeter het by die Spele in Londen. Sy is ook in 2013 as die wêreldkampioen gekroon in Rusland, maar het in 2014 ’n toets vir verbode middels gedop, waarna sy twee jaar geskors is.

Haar wêreldrekord is sedertdien deur die Olimpiese kampioen in Rio de Janeiro (2016), Liu Hong, verbeter.

Van die ander atlete wie se aansoeke ook nie suksesvol was nie, sluit Ekaterina Zavyalova in, wat brons in die 800 m in Londen verower het, maar toe na silwer opgegradeer is nadat haar landgenoot Mariya Savinova, wat oorspronklik goud gewen het, gediskwalifiseer is. Die goue medalje is toe aan Caster Semenya toegeken.

Zavyalova is in 2017 vir twee jaar geskors vir die gebruik van verbode middels, met al haar uitslae sedert Oktober 2014 wat uit die rekordboeke gewis is.

Antonina Krivoshapka, wat in 2012 silwer saam met die 4x400 m-aflosspan gewen het, voordat hulle ook gediskwalifiseer is vir opkikkers, se aansoek was ook onsuksesvol.

Die atlete wat Dinsdag goedkeuring gekry het om deel te neem in Doha, is Kseniya Aksyonova (400), Mikhail Akimenko (hoogspring), Irina Ivanova (paalspring), Vladislav Panasenkov (spiesgooi), Dmitriy Sorokin (driesprong), Sardana Trofimova (marathon), Anna Tropina (3 000-hindernis), Yuliya Turova (20 km-stapwedloop), Nataliya Aksenova (hoogspring), Anatoliy Rybakov (5 000 en 10 000) en Konstantin Shabanov (110-hekkies).

Meer oor:  Doha  |  Iaaf  |  Anna Chicherova  |  Wêreldkampioenskap  |  Elena Lashmanova
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.