Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Indië se 1ste openlike gay sportster

Die Indiese naelloper Dutee Chand het die eerste sportster in dié land geword wat openlik erken dat sy gay is.

Dutee Chand is Indië se eerste openlike gay sportster. Foto: Getty Images

Die BBC berig dat Chand (23) bekend gemaak het dat sy al vyf jaar in ’n verhouding met ’n vrou is.

Volgens Chand het die hooggeregshof in Indië se geskiedkundige besluit in 2018 om gay verhoudings te dekriminaliseer haar aangemoedig om in die openbaar oor haar seksualiteit te praat.

Sy het egter gesê sekere van haar familielede het nog nie haar verhouding aanvaar nie.

“Ek en ’n 19-jarige vrou van my dorpie (Chaka Gopalpur) is al vyf jaar in ’n verhouding,” het sy gesê in ’n onderhoud in Hyderabad waar sy oefen.

“Ek het my pasmaat gevind. Ek glo almal moet die vryheid hê om enigiemand te kan liefhê. Daar is geen groter emosie as liefde nie en niemand mag dit ontneem word nie.”

Hoewel Indië se houding teenoor gay mense stadig aan die verander is, sê Chand dat sommige mense, soos haar suster wat dreig om haar uit die familie te skop, dit nie aanvaar nie.

“My oudste suster beweer dat my meisie net in my besittings belangstel. Sy dreig om my tronk toe te stuur omdat ek in hierdie verhouding is.”

Chand het in 2013 op die Wêreld-jeugkampioenskappe die eerste Indiese naelloper geword wat die uitdunne op ’n wêreldatletiekbyeenkoms gehaal het.

Sy het die internasionale vereniging van atletiekfederasies (IAAF) in 2014 hof toe gesleep nadat sy geskors is omdat sy ’n hormoontoets gedop het.

In Julie 2015 het die internasionale hof vir sportarbitrasie (CAS) die reëls, ingevolge waarvan atlete met hoër testosteroonvlakke getoets moet word, opgeskort vir twee jaar om geleentheid vir meer navorsing te gee.

Chand is toegelaat om weer te hardloop terwyl CAS die geldigheid van geslagstoetse rondom vroueatlete bevraagteken het.

Daarna het sy vir die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in 2016 gekwalifiseer en in 2018 twee silwermedaljes op die Asiese Spele verower.

– Sportredaksie

Meer oor:  Dutee Chand  |  Atletiek  |  Gay
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.