Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Inspiration Games toe saai en vervelig

Die gedagte agter die Inspiration Games wemel van kreatiwiteit, maar uiteindelik was dié byeenkoms, wat as ’n plaasvervanger vir die Diamantliga-reeks se Zürich-been tel, bra verbeeldingloos.

Andre de Grasse van Kanada.Foto: Getty Images

Die byeenkoms, wat Donderdag tussen 30 atlete in vyf lande beslis is, sou dalk ’n bietjie vermaak verskaf het vir diegene wat uitgehonger is om regstreekse atletiek te sien te midde van die Covid-19-pandemie.

Maar die verskillende toestande het beteken dat die affêre uiteindelik maar niks meer as ’n bemarkingsfoefie was nie.

Met drastiese temperatuurverskille tussen Papendal in Nederland (18 °C), Karlstad in Swede (17 °C), Lissabon in Portugal (22 °C), Brandenton in Florida (33 °C), Walnut in Kalifornië (27 °C), Zürich in Switserland (29 °C) en die binnenshuise paalspring in Aubière, Frankryk, was die uitslae nie juis veelseggend nie.

Dan het ’n blaps deur Noah Lyles, die 200 m-wêreldkampioen, die byeenkoms se geloofwaardigheid ’n verdere knou gegee toe hy per ongeluk by die verkeerde wegspringmerk vir dié item aangetree en net 185 m gehardloop het.

Lyles het 18.90 sekondes op die stophorlosie geregistreer ondanks ’n sterk wind van voor en dadelik was dit duidelik dat almal wonder oor dié tyd.

Usain Bolt hou immers die wêreldrekord in 19.19.

Eindelik is die fout besef en het Lyles se tyd nie getel nie.

Die naellopers was verder veral verroes in die 100 treë-wedloop waar die Kanadees Andre de Grasse die pyp gerook het in 9.68 sek.

Al drie atlete het in Bradenton in die blokke gesak met Frankryk se Jimmy Vicaut wat naasbeste was in 9.72 en die Jamaikaan Omar McLeod derde in 9.87.

“Dit is moeilik sover. Ons spring van tartanbane na grasbane en probeer binnenshuise geriewe kry waar ek kan oefen, so dit was heerlik om net weer buite te wees en deel te neem,” het De Grasse ná sy wedloop gesê.

“Ek het gedink dat ek die jaar op ’n goeie peil begin het ná verlede jaar se Wêreldkampioenskap. Ek het hard gewerk aan my wegspring voordat die pandemie uitgebreek het, want dit sou die sleutel wees om goud te verower (by die Tokio-Spele). Nou sal ons egter moet wag en sien hoe dinge volgende jaar gaan werk.”

Die Amerikaner Allyson Felix, wat in Walnut gehardloop het, het geseëvier in die vreemde 150 m-wedloop in 16.81 sekondes. Sy het dié tyd wel behaal met ’n sterk wind van -2.6 m/s van voor.

Shaunae Miller-Uibo van die Bahamas was naasbeste in 17.15 in Bradenton waar sy self met ’n windlesing van -2.5 m/s van voor moes meeding.

Mujinga Kambundji van Switserland, wat in Zürich gehardloop het, moes met die derde plek tevrede wees in 17.28 (+0.3 m/s).

“Dit was vreemd,” het Felix gesê net nadat sy op haar eie die wenstreep oorgesteek het.

“Dit is amper soos oefening, buiten dat daar niemand anders is nie. Dit is lekker om myself uit te daag. Ek is lief vir die sport en enige kans wat ek kry om te hardloop, sal ek gryp.”

In die paalspring het die tweemalige wêreldkampioen en Amerikaner Sam Kendricks sy slag in Bradenton gewys, met Pole se Piotr Lisek wat in Karlstad was en die Fransman Valentin Lavillenie in Aubière.

Kendricks het die eerste plek verower met ’n hoogte van 5,81 m, terwyl Lisek suksesvol was op 5,66 m.

Lavillenie was heeltemal uit sy diepte teen die Amerikaner en die Pool. Hy het reeds op die eerste hoogte van 5,36 m uitgeval terwyl sy twee teenstanders met hul eerste pogings suksesvol oor die dwarslat geseil het.

Wat die vroue betref, het die Griek en Diamantliga-kampioen Katerina Stefanidi harde bene gekou teen Amerika se Olimpiese silwermedaljewenner Sandi Morris en Swede se Angelica Bengtsson.

Stefanidi het op 4,46 m uitgeval, terwyl Morris op 4,66 m suksesvol was met Bengtsson wat met haar derde poging oor die dwarslat is op 4,46 m, voordat sy met die dwarslat op 4,56 m gestel uitgeval het.

Meer oor:  Atletiek  |  Inspiration Games  |  Noah Lyles  |  Andre De Grasse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.