Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Jamaika, Kenia moet ASA nou help

Atletiek Suid-Afrika (ASA) wil vennootskappe met Jamaika, Kenia, Ethiopië, China en Japan aangaan in ’n poging om plaaslike atlete se uitslae te bevorder.

So het Aleck Skhosana, ASA-president, Dinsdag luidens ’n verklaring gesê ná hul algemene jaarvergadering wat Sondag in Johannesburg gehou is.

Aleck Skhosana, president van ASA, wil vennootskappe met onder meer Jamaika, Kenia en Ethiopië aanknoop. Foto: Gallo Images

ASA wil glo veral vir Jamaika betrek om te help om vroueatlete rondom die ouderdomme van 16 en 17 in die sport te hou.

“Jamaika en Suid-Afrika kyk daarna om ’n kompetisie te hou wat op ’n rotasiebasis in die een land en dan die ander gehou sal word,” sê Skhosana.

Die fokus hier sal glo op die naellope wees.

Ethiopië en Kenia sal betrek word om middel- en langafstande te help bevorder.

“Ethiopië hou die sleutel vir Suid-Afrika in dié afstande,” sê Skhosana. “ASA het daarom die duidelike nut gesien daarin om Kenia en Ethiopië se atlete en afrigters te nooi vir oefenkampe in Suid-Afrika. Dit sal moontlik ooreenstem met hul landloopseisoene van November en Desember 2019.”

ASA het die Keniane reeds in November 2018 genader om te help met die ontwikkeling van landloopatlete.

Volgens Skhosana word China en Japan albei as lande beskou wat groot treë vorentoe neem wanneer dit kom by naellope en stapwedlope vir vroue en mans.

“ASA oorweeg die moontlikheid van ’n uitruilbyeenkoms met China in Suid-Afrika en andersom.

“Die Japannese oorheers nou stapwedlope. Suid-Afrika wil by hulle leer om in dié item te verbeter.”

Verder is die voorbereiding vir 2020 se Olimpiese Spele in Tokio, sowel as die Afrika-kampioenskap, Diamantliga-reeks, Statebondspele en Wêreldkampioenskap ook bespreek.

Skhosana meen hoewel Suid-Afrika steeds hoog aangeskryf word in wêreldatletiek, daar finansiële druk is wat ’n direkte invloed op spanne het wat vir byeenkomste gekies word.

“ASA is nie immuun teen die ekonomiese druk wat elke industrie in die wêreld affekteer nie. Ons moes besnoei op baie van ons projekte in ’n poging om prioriteit te gee aan die kernbesigheid van die organisasie,” het Skhosana bygevoeg.

Hy het weer uitgewys dat die besluit deur die SAUK om nie meer byeenkomste uit te saai nie ’n groot terugslag was.

“Ten spyte van al die uitdagings het ons nie gesny aan die aantal atlete wat na kampioenskappe is nie – veral nie dié wat gekwalifiseer het vir die Afrika- en Wêreldkampioenskap nie. Ons het eerder gesny aan die getal bestuurders en afrigters waar dit nodig was.”

Hy het wel genoem dat ASA weer met die hoed in die hand by die Nasionale Loterye-kommissie sal aanklop vir ondersteuning in die aanloop tot die Olimpiese Spele.

Meer oor:  Atletiek  |  Asa  |  Aleck Skhosana  |  Atletiek Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.