Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Hul blaas nuwe lewe in SA gewigstoot

Jason van Rooyen en Kyle Blignaut se wedywering in die mans se gewigstoot, het nuwe lewe in dié velditem in Suid-Afrika geblaas.

In die afgelope twee weke is geskiedenis gemaak toe hulle die gewigstootbal verder as 21 m gestoot het.

Jason van Rooyen in aksie tydens Atletiek Suid-Afrika se Grand Prix-reeks in 2018. Foto: Gallo Images

Op 29 April het Van Rooyen in Potchefstroom ’n afstand van 21,14 m behaal en vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer.

’n Week later het Blignaut by die Kenneth McArthur-stadion ’n afstand van 21,03 m aangeteken, nie ver buite die kwalifiserende afstand van 21,10 m nie.

Dit is die eerste keer wat twee Suid-Afrikaanse gewigstoters in dieselfde jaar verder as 21 m stoot.

Wanneer ons deelneem is daar nooit enige genade nie.

Voor hul blink vertonings was Janus Roberts (21,97) en Orazio Cremona (21,51) die enigste ander plaaslike atlete wat al afstande van verder as 21 m kon vermag.

Roberts het dit in 2006 reggekry met Cremona wat eers in 2019 gevolg het.

Van Rooyen (24) en Blignaut (21) beklee nou onderskeidelik die derde en vierde plekke op die lys van die voorste afstande deur Suid-Afrikaners en met atlete in dié item wat normaalweg hul beste vertonings eers vanaf 25-jarige ouderdom behaal, lê opwindende tye voor.

Kyle Blignaut tydens die o.20-Wêreldkampioenskappe in 2018. Foto: Gallo Images

Blignaut, ’n Tuks-atleet, glo vas dat Suid-Afrika op die podium by Wêreldbyeenkomste kan staan as dinge binne die volgende drie jaar volgens plan verloop.

’n Plek in die eindronde van die Spele is iets wat hy ook in sy visier het, al moet hy nog eers sy sitplek op die vlug na Tokio bespreek.

Hy is 1,95 m lank en weeg 148 kg.

As skoolseun het hy vir ’n rukkie rugby gespeel, maar gewigstoot het gewen.

In 2018 het hy goud in die o.20-Wêreldkamioenskappe in Finland gewen en dit vanjaar opgevolg met sy eerste nasionale titel vir die seniors.

Blignaut was toe eerste met 20,82 m gevolg deur Van Rooyen met 20,60 m.

“Wanneer ons deelneem is daar nooit enige genade nie,” sê Blignaut, luidens ’n verklaring van TuksSport, oor dié twee se wedywering.

Ek het nooit deelgeneem om tweede te kom nie.

“Ek hou nie van verloor nie en hy ook nie, maar daar was nog nooit slegte gevoelens tussen ons ná ’n kompetisie nie.

“Ek was bly toe Jason deur die 21 m-grens gebreek het en hy het my gelukgewens toe ek dit reggekry het.”

Blignaut se begeerte om die beste te wees, kom al van sy kinderdae af.

“Ek moet erken dat ek ’n mededingende persoon is. Dit is hoe ek grootgeword het. As ’n gesin het ons altyd die een of ander kompetisie aan die gang gehad. Ek het nooit deelgeneem om tweede te kom nie.”

Dit is juis dié ingesteldheid wat hy glo in sy guns tel wanneer dit by atletiek kom.

“Elke keer wanneer ek oefen, warm ek op asof ek gaan deelneem. Wanneer ek gooi, sit ek altyd meer as 80% in. Ek dink dit is belangrik om dit so te doen.

“Jy moet jou liggaam só kondisioneer dat jy reg is om deel te neem en dan moet jy die mas opkom.”

Blignaut reken egter Pierre Blignaut, sy afrigter, moet die krediet kry vir sy prestasies.

“Al is ons nie aan mekaar verwant nie, voel hy soos familie. Hy is die een wat my laat glo het dat niks onmoontlik is nie en wat my geleer het dat gewigstoot 65% goeie tegniek en 35% brute krag is.”

Jaco Engelbrecht, ’n voormalige gewigstoter, is ook sy inspirasie. – Sportredaksie

Meer oor:  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.