Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Marizanne Kok gesels met Ann Ashworth
Jeanne d’Arc van die langpad

Op 10 Junie het sy nuus gemaak met ’n onverwagte sege in die Comrades. Twaalf dae later werp sy haarself toe weer in die kollig – met ’n dwarsklap vir ’n reus.

November 2017: Ann Ashworth doen navraag by Atletiek Suid-Afrika (ASA) oor die kwalifiseringsvereistes vir 2018 se 100 km-wêreldkampioenskap en sê haar span se borg, Massmart, stel belang om die span te borg. Sy kry geen antwoord nie.

Januarie 2018: Ashworth stuur nog ’n boodskap – en kry weer geen antwoord nie.

Februarie 2018: ’n Derde navraag by ASA word geïgnoreer.

April 2018: ASA kondig aan dat daar nie ’n Suid-Afrikaanse span na die 100 km-wêreldkampioenskap geneem sal word nie weens ’n gebrek aan geld.

28 Junie 2018: ASA kondig uit die bloute aan dat Ashworth, vyf ander vroue en ses mans die land op 2 September by die 100 km-wêreldkampioenskap in Kroasië sal gaan verteenwoordig. Later daardie dag hoor Ashworth by haar afrigter van die brief en twiet dat sy nie belang stel nie.

Voor die storm: Ann Ashworth hardloop in Junie oor die wenstreep ná ’n onverwagte sege in die Comrades-marathon. Foto: Ian Carbutt

Op 34 het Ann Ashworth lankal besluit sy wil nie ’n kat wees wat sonder handskoene gepak word nie. As advokaat het sy haar man leer staan. En vir haar grootste passie – tekkies op die teer – hou sy nie meer haar mond nie.

Die nuwe Comrades-kampioen draai nie doekies om oor haar gevoelens jeens ASA nie. ’n Organisasie wat 18 maande gelede besluit het hy is bevoeg genoeg om nuwe reëls oor borge op die klere van elite-padatlete te maak, het glo ook al aan Ashworth en van haar medeatlete gesê hulle gee nie om vir padwedlope nie.

Hulle het slegs die Comrades-marathon as kwalifiseringsren vir die wêreldkampioenskap gebruik, sonder om dit vooraf aan enige atlete te kommunikeer. En nou, sê Ashworth, verwag hulle van haar en ander langasems soos sy om twee keer binne minder as drie maande aan ultra-wedlope deel te neem.

“Toe ASA in April ’n brief uitstuur om te sê daar sal nie ’n span gaan nie omdat hulle nie geld het nie, was ek eers verstom, want ek het vir hulle vertel van ’n moontlike borg. Maar toe gaan ek aan met my lewe. Daar was nie meer ’n wêreldkampioenskap waarvoor ek moes voorberei nie, so in my gedagtes was my enigste fokus toe die Comrades,” sê Ashworth die afgelope week.

“Ek is verlief op die Comrades, al vir jare, so ek sou steeds daarin gaan hardloop het al was die wêreldkampioenskap nog ’n moontlikheid. Maar ek sou miskien nie die Loskop of die Twee Oseane gaan doen het nie, sodat ek iets in die petroltenk kon hou.

“As jy nou terugkyk op hoe ASA dinge gedoen het – eers ’n brief dat daar nie ’n span gekies gaan word nie en dan uit die bloute ’n spanaankondiging – sien jy hoe onbevoeg hulle is. Ons is nie die keuse gegee of ons wil probeer kwalifiseer of ons skedule wil aanpas om vars vir die kampioenskap te wees nie. Nou het ons alles gegee in die Comrades, en wanneer ons dan nie weer teen September so goed kan hardloop nie, sit óns met eier op die gesig – nie ASA nie. Maar ASA doen geen moeite om ’n omgewing te skep wat ons help presteer nie.”

In Ashworth se geval het die feit dat sy nog altyd haar eie spaarvarkie moes oopbreek om haar passie vir hardloop uit te leef ook ’n rol gespeel in haar besluit om ASA die middelvinger te wys.

Net so is die tyd ryp vir ’n verandering in my lewe. Ek sal graag wil aanhou ­afrig op die toer.

In die agt weke voor die Comrades het sy geen inkomste verdien nie, omdat sy besluit het om soveel tyd as moontlik op die teer deur te bring. Die beloning vir dié toewyding was gróót: ’n eerste Comrades-titel wat niemand anders verwag het nie.

“Vir my het dit daaroor gegaan om my droom te volg. Ek wou nie eendag terugkyk en sê, wat as ek maar opofferings gemaak het en gesien het wat gebeur as hardloop die middelpunt van my bestaan word nie.

“Nou weet ek, maar ek kon dit eintlik net doen omdat Mass­mart my begin bystaan het en omdat my man verlede jaar klaar gestudeer en nou weer begin werk het.

“Daar was nog nooit ondersteuning van ASA vir die land se padatlete nie, so ek was vir jare maar net in die bondel by die Comrades. My omstandighede moes eers verander voordat dit kon verander,” sê die Johannesburger.

Dit stuit Ashworth ook teen die bors dat daar nou aktiewe pogings is om korporatiewe klubs – die lewensbloed van die sport in Suid-Afrika – te ondermyn.

Elite-atlete mag volgens ASA-reëls net die naam van een borg dra. “As jy dus skoene by Nike kry en daarmee hardloop, mag jy geen ander borg op jou klere hê nie. Hoekom sal ’n Nedbank of ’n KPMG dan nog geld by ’n klub instoot?” vra Ashworth.

“Al wat Suid-Afrikaanse padatletiek in sy guns het, is die klubstelsel, want daar word ontwikkeling gedoen en sover moontlik aan atlete se behoeftes voldoen. ASA het dit nog nooit gedoen nie. In ’n vergadering wat ek in Maart 2017 met hulle gehad het, is selfs gesê hulle gee nie om vir padwedlope nie, hul fokus is op baan- en veldatletiek.”

As ek, wat wel bevoorreg is, dit nie kon doen nie, hoeveel ander mense is daar wat nie eens kan droom van groot wedlope nie?
Ann Ashworth

Toe Sentraal-Gauteng-atletiek (CGA) in 2016 daarop aandring dat klubs as deel van hul registrasiegeld R100 000 moet betaal “vir ontwikkeling” het die handskoene afgekom, sê Ashworth.

“Niemand was bereid om geld in ’n diep donker gat af te gooi en hul eie kele af te sny nie. Die enigste ontwikkeling wat daar in hierdie stadium is, is by klubs, nie by ASA of CGA nie. Nadat die klubs ’n groot bohaai gemaak het, is gelukkig van daardie plan afgesien.”

Vir Ashworth lê die ontwikkeling en opheffing van minderbevoorregte atlete haar baie na aan die hart.

“Dit klink dalk laf komende van ’n wit vrou, want mense sal sê ek is nie minderbevoorreg nie, maar my familie het ook finansieel gesukkel. Ek kon byvoorbeeld vir jare nie bekostig om Kaapstad toe te vlieg vir die Twee Oseane nie. Dis maar die afgelope 18 maande wat ek in ’n posisie is om voltyds te hardloop.

“As ek, wat wel bevoorreg is, dit nie kon doen nie, hoeveel ander mense is daar wat nie eens kan droom van groot wedlope nie? Ek dink as jy die vermoë het om te help, is dit jou plig om te help.”

Ashworth se Massmart-klub het onlangs ’n mentorskapprogram begin, waar atlete wat droom van groot wedlope soos die Twee Oseane of Com­rades bygestaan word deur elite-atlete soos sy.

ASA moet gestop word.

“Ons het honderde aansoeke gekry, wat vir jou wys daar is honderde atlete daar buite wat hulp wil hê, maar dit nie by ASA sal kry nie. Ons begroting is ’n druppel aan die emmer vergeleke met hulle s’n, maar dis ons wat help, nie hulle nie.

“Daar is soveel talent in hierdie land. Ons het nou drie atlete onder ons vaandel ingetrek wat dit nie andersins sou kon bekostig om ernstig te hardloop nie en hulle floreer.

“Een van hulle bly in ’n pondok in Alexandra. Sy is ’n nuwe mens, haar hele lewe het verander, want nou is daar iemand wat haar afrig, vir haar hardloopklere gee en kan betaal vir haar oefenregime.”

Ashworth erken ruiterlik dat sy nog altyd ’n kampvegter was vir sake wat haar na aan die hart lê. En vir ASA skrik sy glad nie.

“ASA moet gestop word,” sê sy. “Aan die een kant gee hulle geen ondersteuning nie en aan die ander kant stel hulle reëls in wat die sport seermaak. En eintlik moet dit net mooi andersom wees.”

* Richard Stander, die uitvoerende hoof van ASA, het gister aan Rapport gesê ASA is besig met ’n interne ondersoek na die gebeure rondom Ashworth.

“ASA se amptelike posisie is: ASA praat nie met atlete via die media nie. ASA is tans besig met ’n interne ondersoek. Die werklike feite sal dan bekend gemaak word,” het hy gesê.

Meer oor:  Ann Ashworth  |  Comrades  |  Wêreldkampioenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.