Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Johnson-uitlating plaas druk op Wayde

Die Olimpiese legende Michael Johnson meen Wayde van Niekerk en sy ondersteuners moet “realisties” wees oor sy kanse om sy Olimpiese 400 m-titel later vanjaar in Tokio te verdedig – maar die Bloemfonteiner is nie van plan om hom daaraan te steur nie.

Ans Botha, Van Niekerk se afrigter, het Maandag gesê die atleet is gefokus daarop om sy loopbaan te hervat nadat hy vir die grootste deel van twee seisoene deur beserings geteister was. Sy het ook laat blyk dat sy nie gelukkig met Johnson se opmerkings is nie.

Atletiek
Die eerste treë na Tokio. Die naelloopkampioen Wayde van Niekerk in aksie op ’n byeenkoms van die Kovsies Maandagaand in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

“Glo dit of nie, die nuus kom by hom uit en Michael Johnson se uitlatings plaas ook druk op ons,” het Botha gesê.

Van Niekerk het op Twitter aangekondig dat hy sy eerste oefenwedloop van die seisoen Maandag op ’n Kovsies-byeenkoms sou hardloop.

Botha wou nie daarop uitbrei nie, maar het wel bevestig dat hy op 28 en 29 Februarie aan die Vrystaatse kampioenskappe gaan deelneem. Hy sal in aksie wees in die 400 m en hardloop vir ’n plek in die nasionale kampioenskappe wat van 23 tot 25 April in die Pilditch-stadion in Pretoria plaasvind.

Dié byeenkoms is net drie maande voor die aanvang van vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio, waar Van Niekerk hoop om die kroon wat hy vier jaar gelede op skouspelagtige wyse verower het suksesvol te verdedig.

Glo dit of nie, die nuus kom by hom uit en Michael Johnson se uitlatings plaas ook druk op ons.
Ans Botha

Die Suid-Afrikaner het Johnson se wêreldrekord van 43.18 (wat 17 jaar geldig was) in Rio de Janeiro aan flarde gehardloop en met ’n wentyd van 43.03 ’n Olimpiese goue medalje verower.

Johnson meen egter dat dit tyd sal neem vir Van Niekerk om weer die peil van daardie dag te bereik.

“Ek hoop hy kan terugkeer en daar (op die Spele in Tokio) wees. Die probleem is dat dit nie maklik gaan wees vir hom om op sy heel beste te wees nie,” het Johnson voor die Laureus-sporttoekennings in Berlyn aan Sport24 gesê.

“Hoe langer jy weg is van die sport – en onthou, hy het nou twee volle seisoene uitgesit – hoe moeiliker raak dit. Tegnies kan dit ’n volle seisoen neem om net weer wedloop-fiks te word.”

Wayde van Niekerk vier in 2017 sy goue medalje in die 400 m op die Wêreldkampioenskap in Londen. Foto: Getty Images

Johnson het gesê ondersteuners van Van Niekerk moet waarskynlik hul verwagtinge temper. Tog erken hy dat

Van Niekerk reeds gewys het dat hy nie sommer enige atleet is nie.

“Dis natuurlik sielkundig gesproke baie taai om ná twee jaar – in ’n Olimpiese jaar – terug te kom terwyl baie ander regtig vinnig hardloop.

“Maar almal verskil en dit neem iemand van ’n ander stoffasie om ’n Olimpiese kampioen, wêreldkampioen en wêreldrekordhouer te word. Dit is ’n heel verskillende tipe atleet daardie – iemand wat party mense dalk nie as menslik sien nie.

Michael Johnson vier in 1996 sy goue medalje en 200 m-wêreldrekord op die Olimpiese Spele in Atlanta. Foto: Getty Images

“Ons kan nie sê Wayde staan nie ’n kans nie. Hy volg dalk ’n ander patroon as die res. Ons sal maar moet sien.”

Kort nadat hy in September 2017 in die Wêreldkampioenskappe in Londen die goue medalje gewen het, het Van Niekerk ’n kniebesering in ’n raakrugbywedstryd op Nuweland opgedoen.

Dié besering het hom uit die Statebondspele in 2018 en verlede jaar se Wêreldkampioenskappe in Doha gehou.

Hy het verlede jaar in Februarie ’n vinnige proesel van ’n byeenkoms gehad toe hy die 400 m in die Vrystaatse Kampioenskap gewen het. Hy het hom egter daarna aan die nasionale kampioenskappe onttrek en die res van die jaar nêrens anders deelgeneem nie.

* Suid-Afrika se ander heersende Olimpiese atletiek-kampioen, Caster Semenya, het intussen Vrydagaand ’n nuwe nasionale rekord in die 300 m opgestel.

Semenya, wat weens Wêreldatletiek se testosteroon-regulasies nie aan die 800 m of 1 500 m mag deelneem nie, het op die Universiteit van Johannesburg se Classic Shootout-byeenkoms die eerste keer in sewe maande mededingend gehardloop. Sy het die 300 m in 36.78 sekondes voltooi.

Semenya is nou die SA rekordhouer in die 300 m, 400 m, 600 m, 800 m, 1 000 m en 1 500 m. – Sportredaksie

Meer oor:  Ans Botha  |  Atletiek  |  Wayde Van Niekerk  |  Michael Johnson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.