Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Jou stem kan Caster, Luvo help

Twee Suid-Afrikaners staan in die tou om met die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se mees gesogte prys weg te stap en die publiek se stemme kan hulle help om hierdie prestasie te behaal.

Daar is nog net vyf dae oor vir atletiekgeesdriftiges om vir hul gunstelinge te stem.

Caster Semenya. Foto: Getty Images

Caster Semenya sal hoop dat haar ellelange lys van prestasies in 2018 eindelik genoeg sal wees om die stemmers te oortuig dat sy die prys verdien as die Vroue-atleet van die Jaar.

Semenya is in 2016 en 2017 ook benoem, maar het eers die knie voor Almaz Ayana van Ethiopië gebuig en is toe deur Nafissatou Thiam van België uitgestof.

Die Suid-Afrikaanse ster het in 2018 haar segetog in die 800 m voortgesit, ’n item wat sy laas in 2015 verloor het.

Sy het die Suid-Afrikaanse rekords in die 400 m, 800 m, 1 000 m en 1 500 m vanjaar verbeter.

Sy is boonop as die Statebondspele se kampioen in die 800 sowel as die 1 500 gekroon en het ook haar titel in haar voorkeurnommer in die Diamantliga-reeks verdedig.

Sy kom teen Dina Asher-Smith (Brittanje), Beatrice Chepkoech (Kenia), Sifan Hassan (Nederland), Caterine Ibarguen (Colombia), Mariya Lasitskene (Neutraal), Shaunae Miller-Uibo (Bahamas), Sandra Perkovic (Kroasië) en Anita Wlodarczyk (Pole) om die IAAF-prys te staan. Thiam, verlede jaar se wenner, is ook weer benoem.

Luvo Manyonga. Foto: Getty Images

Die verspringer Luvo Manyonga is vir die tweede agtereenvolgende jaar in die kategorie vir Mansatleet van die Jaar benoem.

Hy het egter heelwat strawwe teenstanders wat in sy pad staan.

Manyonga het die silwermedalje by die Binnenshuise Wêreldkampioenskap verower, daarna die goue medalje op die Statebondspele verower en dit opgevolg deur sy titel in die Diamantliga-reeks te verdedig.

Hy kom teen Timothy Cheruiyot, Emmanuel Korir, Eliud Kipchoge (almal Kenia), Christian Coleman, Noah Lyles (albei VSA), Armand Duplantis (Swede), Kevin Mayer (Frankryk), Abderrahman Samba (Katar) en Tomas Walsh (Nieu-Seeland) te staan.

Die stemproses word in drie fases opgedeel.

Die publiek kan hul stemme op die IAAF se sosialemediaplatforms wys deur die benoemdes se foto’s op Instagram, Facebook en Twitter te ‘like’.

Dié stemme sal 25% tel van die finale besluit, met die IAAF-raad wie se stemme 50% tel en die IAAF-familie wat die oorblywende 25% opmaak.

Daarná sal vyf finaliste aangekondig word.

Die wenners sal op 4 Desember by ’n glansgeleentheid in Monaco aangekondig word.

Meer oor:  Iaaf  |  Luvo Manyonga  |  Iaaf-Pryse  |  Iaaf-Toekennings  |  Caster Semenya
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.