Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Kan aflosspan tot SA se redding kom?

Suid-Afrika se laaste hoop op ’n medalje by atletiek se Wêreldkampioenskap in Doha, Katar, rus soos ’n betonblok op die skouers van die mans se 4x100 m-aflosspan.

Akani Simbine sal ’n deurslaggewende rol moet speel indien die 4x100 m-aflosspan op die podium wil staan. Foto: Reuters

Slaag hulle, sal Suid-Afrika nie met leë hande huis toe keer nie. Faal hulle, sal dit die eerste keer sedert 2007 in Japan wees dat die sogenaamde reënboognasie nie daarin kon slaag om ’n enkele medalje te verower op die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) se Wêreldkampioenskappe nie.

Sedert die land se hertoelating in 1992 het Suid-Afrika nog net in 1993 in Duitsland, 1995 in Swede, 2005 in Finland en 2007 niks gehad om vir hul pogings te wys nie.

Tot dusver is 2019 se weergawe niks minder as ’n absolute ramp nie.

Daar is egter ’n skrale kans op hoop: Akani Simbine, Thando Dlodlo, Anaso Jobodwana, Simon Magakwe, Antonio Alkana en Clarence Munyai se name is in die 4x100 m se groep gelys wat Vrydag in die uitdunne ingespan kan word.

Simbine het verlede Saterdag naelskraaps die podium misgeloop in die 100 m se eindronde waar hy vierde was in 9.93 sekondes. Alkana (110 m-hekkies), Jobodwana en Munyai (albei 200) het almal in die halfeindrondes van hul nommers uitgeval, terwyl Dlodlo en Magakwe (albei 100) nie verder as die uitdunne gekom het nie.

Die span wat sal aantree behoort uit Magakwe, Jobodwana, Munyai en Simbine te bestaan en is saam met Kanada, Nederland, Japan, Frankryk, Duitsland, Nigerië en China in die tweede uitdun ingedeel.

Dié loting is reeds ’n stukkie geluk wat na die Suid-Afrikaners se kant gekom het, want in die eerste uitdun sal Amerika, Jamaika, Brittanje, Turkye en Brasilië onder meer sake uitspook vir ’n plek in die eindronde. Net die eerste drie spanne in elke wedloop is van ’n plek in die eindronde verseker, met die twee vinnigste verloorders wat ook sal deurdring.

Amerika sal loshande die gunsteling wees met nuut gekroonde wêreldkampioene in die 100 m en 200 m in onderskeidelik Christian Coleman en Noah Lyles. Dan is Justin Gatland, ’n voormalige 100 m-kampioen, sowel as Michael Rodgers in hul geledere. Hulle kan selfs op die knoppie van die 110 m-hekkieskampioen Grant Holloway druk.

Jamaika kan vir Yohan Blake, Julian Forte, Omar McLeod en Tyquendo Tracey inspan wat nie een ’n tekort aan spoed het nie. Dis egter die eerste Wêreldkampioenskap waar daar geen Usain Bolt is nie.

Brittanje het vir onder meer Adam Gemili, Zharnel Hughes, Miguel Francis en Ojie Edoburun in hul groep.

Die uitdunne begin Vrydag om 20:05 (SA tyd) met die eindronde wat Saterdag om 21:15 plaasvind.

* Sunette Viljoen is Woensdag amptelik tot die silwermedalje bevorder in die spiesgooi vir die 2011 Wêreldkampioenskap in Daegu, Suid-Korea.

“Gister het ek my silwermedalje van Daegu 2011 gekry en my hart is gevul met dieselfde vreugde as wat dit in daardie eindronde was,” het Viljoen Donderdag in ’n plasing op Instagram gesê.

“Ek onthou hoe gelukkig ek was en hoe ver ek moes gooi om op die podium te staan. Ek onthou die 71 m van beide Barbora Spotáková en Mariya Abakumova, ek onthou my 68,38 m in die vyfde ronde.”

Abakumova, wat destyds goud gewen het, het ’n opkikkertoets gedop en is gevolglik van haar medalje ontneem, met Viljoen, wat destyds brons verower het, wat tot silwer bevorder is.

* Suid-Afrikaners wat Vrydag deelneem:

4x100 m-aflos, uitdunne (20:05); Wayne Snyman – 20 km-stapwedloop (22:30).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.