Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Keniane bult spiere in padwedloop

Die Keniaanse padatleet Alfred Ngeno het vooraf gesê hy gaan die Joburg-stadswedloop oor 10 km wen.

Alfred Ngeno wen Dinsdag die Cityrun-padwedloop oor 10 km in Johannesburg in 29 minute en 16 sekondes. Foto: Tobias Ginsberg

Dinsdag was hy getrou aan sy woord. Hy het een sekonde voor Kevin Kibet van Uganda oor die eindstreep gehardloop en boonop ’n nuwe roeterekord van 29 minute en 16 sekondes opgestel.

Dit is 11 sekondes vinniger as Filmon Ande van Eritrea se rekord, wat hy verlede jaar behaal het.

Sowat 15 000 deelnemers het in byna perfekte toestande die Goudstad se strate aangedurf.

Dit is nou al tradisie dat internasionale atlete plaaslike langasems in die Run Your City-reeks die stryd aansê.

Dinsdag was geen uitsondering nie en die pas was van meet af aan vuurwarm.

Die atlete het die eerste 2 km in 5:20 afgelê en by die 3 km-merk het die voorste bondel tot ses uitgedun.

Ngeno, Kibet en die Suid-Afrikaner Elroy Gelant het die pas warm gemaak, met Namakoe Nkasi en Joel Mmone net agter hulle.

Maar toe die roete afdraai na die Ellispark-sportkompleks, het die gapings oopgemaak en net Gelant en Junior Albert Tonui kon byhou by Kibet en Ngeno.

Die Keniaan Tadu Nare wen die vrouewedloop in 33:53. Foto: Tobias Ginsberg

Hulle het die 5 km-merk in 14:37 bereik. Die opdraande ná die halfpadmerk het sy tol geëis op Gelant, wat vroeër vandeesmaand aan die Kaapstad-marathon deelgeneem het.

Kibet en Ngeno het toe die pedaal ingetrap.

Die duo was daarna tevrede om die laaste kilometer saam te hardloop. Ngeno het op die eindstreep net-net sy kop voor gekry.

Gelant het derde geëindig in 29:38, sy vinnigste tyd tot dusver op dié roete.

Hy mik daarna om op 13 Oktober in die Durbanse wedloop onder 28 minute te hardloop.

Gelant sê die wind het hom bietjie vanaf 6 km gepla, omdat hy alleen gehardloop het.

“Ek is opgewonde, veral so kort ná my marathon. Ek het nou drie weke voor Durban, waar ek vinniger as 28 minute wil hardloop.

“Die uitslag hier, my beste ooit op dié roete, maak my opgewonde,” sê Gelant.

Gerda Steyn op pad na haar derde plek. Foto: Tobias Ginsberg

Junior Tadu Nare van Kenia het die vrouewedloop in 33:53 gewen, net een sekonde stadiger as Irvette van Zyl se roeterekord.

Mary Nyaruai Ekiru, die gunsteling, het tweede klaargemaak in 34:05.

Gerda Steyn, die Comrades-kampioen, het soos verlede jaar derde geëindig, maar haar tyd van 34:31 was 27 sekondes vinniger.

Steyn sal in Durban ’n aanslag maak op die 33 minute-kerf.

“Ek is verheug. My jaar verloop goed sover.

“Ek het grotendeels my eie wedloop gehardloop siende dat Tadu (Nare) en Mary (Ekiru) van die wegspring van die res weggebreek het. Ek is baie tevrede,” sê Steyn.

Durban se Citysurfrun-wedloop is die laaste een in die reeks. – Sportredaksie

Meer oor:  Padwedloop  |  Gerda Steyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.