Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Kipchoge herskryf geskiedenis
Eliud Kipchoge (in die wit frokkie) word omring deur sy pasaangeërs in Saterdag se rekord-marathon in Wene, Oostenryk.Foto: Getty Images

Die 34-jarige Keniaanse langasem Eliud Kipchoge het Saterdagoggend iets vermag wat as “sport se maanlanding” beskryf is toe hy die eerste persoon in die geskiedenis geword het wat die marathon (42,2 km) in minder as twee uur aflê.

Met die hulp van 41 pasaangeërs en aangemoedig deur derduisende toeskouers in die strate van Wene, Oostenryk, het die Keniaan die afstand in ’n verstommende 1 uur, 59 minute en 40.2 sekondes afgeblits.

“Vandag is ons maan toe en terug! Ek het nie woorde om die gevoel te beskryf nie. Ek is dankbaar vir al die ondersteuning wat ek van my hardloopmaats, die mense langs die pad en ondersteuners van reg oor die wêreld heen ontvang het,” het die langasem agterna gesê.

“Dankie aan almal wat my die geleentheid gegee het. Asante (Dankie).”

Sy pasaangeërs het in ’n V-formasie voor hom gehardloop om die windweerstand te verminder.

Ek wil die grense van wat moontlik is, verskuif en vir mense wys enigiets is moontlik as jy jou daarop toespits.
Eliud Kipchoge

Die rekordpoging was ook op ’n relatief bultlose roete. Selfs die dag en wegspringtyd is volgens die weer bepaal en Kipchoge se vloeistof-inname is tydens die wedloop deur ’n dieetkundige gemonitor.

Dié wetenskaplike benadering het uiteindelik die knoop deurgehak en gesorg vir een van die grootste oomblikke in moderne sportgeskiedenis.

Nie dat die Keniaan dit maklik gehad het, ten spyte van die hulp nie. Hy moes steeds elke kilometer in net 170 sekondes voltooi – 42 keer agtereenvolgens!

“Ek wil mense inspireer, want geen mens is beperk nie. Ek wil die grense van wat moontlik is, verskuif en vir mense wys enigiets is moontlik as jy jou daarop toespits. Geen mens is beperk nie,” het hy gesê.

Shalane Flanagan (Getty)

Die atleet se afrigter, Patrick Sang, was agterna vol lof vir die poging.

“Deur sy toewyding is hy ’n inspirasie vir ons almal. Hy het gewys ’n mens kan jouself tot die uiterste en selfs verder druk. Hy het geskiedenis gemaak.

“Alles het perfek verloop voor en gedurende die marathon. Wat die rekord vir ander marathonatlete beteken, is van groot waarde. Dit sal die jonger generasie uitdaag omdat hulle weet so iets is moontlik,” het Sang gesê.

Kenia se vyfmalige Olimpiese kampioen Bernard Lagat was ook byderhand met lof vir sy landgenoot.

“Eliud het die wêreld gewys as jy werklik jou visier hoog stel en hard daarvoor werk, is enigiets moontlik. Hy het die skynbaar onmoontlike vermag.”

Die Amerikaner Shalane Flanagan wat in die 2017 die New York-marathon gewen het, het die atleet op Twitter geluk gewens.

“Eliud Kipchoge het vandag teen die horlosie gehardloop, reguit tot in die geskiedenisboeke. Hy was ongelooflik. Ek het nooit gedink ek sal in my leeftyd ’n marathon vinniger as 2 uur beleef nie. Dis verbluffend.” - bbc.com, Reuters, Sportredaksie

marathon
Meer oor:  Eliud Kipchoge  |  Kenia  |  Marathon  |  Rekord  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.