Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Kipchoge wil laaste grens afbreek
Eliud Kipchoge (middel) en sy droomspan wat hom Saterdag gaan probeer help om geskiedenis te maak. Foto: Reuters

Eliud Kipchoge loop oor van selfvertroue voor sy poging om die eerste mens te word om die marathon in minder as twee ure te hardloop.

Die 34-jarige Keniaan, die Olimpiese kampioen, sê hy gaan Saterdag in Wene, Oostenryk, hardloop om geskiedenis te maak.

“Ek wil wys dat die mens geen beperkinge het nie. Dit is nie oor die geld nie, dit is om ’n geslag te wys dat daar geen beperkinge is nie.

“Dat beperkinge net in mense se koppe en gedagtes is. Ek wil daardie gedagtegang verander dat ’n mens beperk is in dit wat hy wil bereik,” berig olympicchannel.com.

Kipchoge hoop sy jongste poging – wat die Ineos 1:59-uitdaging gedoop is – sal in die geskiedenis-annale vergelykbaar wees met die maanlanding of om Everest die eerste keer te bestyg.

Kipchoge het in September 2018 die wêreldrekord met 78 sekondes verbeter toe hy die 42,2 km in 2 uur, 1 minuut, 39 sekondes afgelê het om die Berlynse marathon te wen.

Hy het in April vanjaar die tweede vinnigste marathontyd aangeteken toe hy die Londense marathon in 2:02:37 gewen het.

Eliud Kipchoge op 16 September 2018 toe hy sy wêreldrekord in Berlyn, Duitsland, aangeteken het. Foto: Reuters

Die Keniaan het sy 41 pasaangeërs in Wene self gekies.

Tien van hulle was by die afgelope Wêreld-atletiekbyeenkoms in aksie.

Ethiopië se Selemon Barega, wat die 5 000 m in Doha, Katar, gewen het, is daar, asook Ronald Musagala van Uganda, wat vanjaar die 1 500 by twee Diamantliga-byeenkomste gewen het.

Die Amerikaner Matthew Centrowitz, die Olimpiese kampioen in die 1 500, tel ook onder die uitgelese groep.

Spencer Barden, hoof van die pasaangeërs, sê dit is ’n ongelooflike groep atlete wat gekies is om Kipchoge te help om geskiedenis te maak.

“Hulle kom van oral in die wêreld. Talle het lang baanseisoene agter die rug, maar niemand moes oortuig word nie. Almal besef dit is ’n eenmalige geleentheid.

“Hulle weet Eliud is een van die grotes en wil hom help om een van die laaste grense in atletiek af te breek en geskiedenis te maak,” sê Barden.

Hulle weet Eliud is een van die grotes en wil hom help om een van die laaste grense in atletiek af te breek en geskiedenis te maak.
Spencer Barden

Die wedloop sou eers in Londen plaasvind, maar daar is eindelik op Wene besluit.

“Eerstens is Wene ’n sportiewe stad, die toeskouers hou van sport. Die roete is vinnig en die derde rede is die park (Prater Hauptallee in die stadskern), dit is ’n natuurlike omgewing,” verduidelik Kipchoge.

Wene is ook vanweë sy gunstige weer gekies. Die ideale weerstoestande vir Kipchoge is tussen 7 en 14 °C, met die humiditeit minder as 80%.

As dit nie Saterdag kan plaasvind nie, is Sondag en Maandag ook daarvoor opsygesit.

Sy landgenoot Kenenisa Bekele het vroeër vandeesmaand gewys die wêreldrekord kán verbeter word. Hy het dit met twee sekondes misgeloop toe hy in 2:01:41 in Berlyn gewen het.

Kitsfeite:

* Kipchoge se vorige rekordpoging was in Mei 2017 in Monza, Italië. Hy het toe 2:00:25 aangeteken.

Dié Breaking2-projek is moontlik gemaak deur Nike. Dié keer word dit gefinansier deur die Britse miljardêr Jim Ratcliffe se chemiese maatskappy, Ineos.

* Die roete strek oor die 4,3 km van die Prater Hauptallee. Hy sal dit in rondtes hardloop om die 42,2 km af te lê.

* Hy moet die halfpadmerk in 59 minute 59 sekondes bereik as hy op koers wil bly.

* Die pasaangeërs sal Kipchoge ook van die wind beskerm. Hulle sal die roete verlaat, maar later weer kan aansluit. Daarom – en omdat daar geen ander deelnemers is nie – sal ’n nuwe rekord nie amptelik erken word nie.

* Kipchoge is ’n tweemalige Olimpiese medaljewenner en voormalige wêreldkampioen in die 5 000. Hy het in April 2013 sy debuut in die marathon gemaak toe hy die Hamburg-marathon gewen het.

* TV: Saterdag vanaf 07:45 (SS 9) en op YouTube.

Meer oor:  Eliud Kipchoge  |  Kenia  |  Oostenryk  |  Marathon  |  Langasems
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.