Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Klop só bloedige hitte in Doha, sê LJ

Atlete moet maar die sonskerm en vloeistowwe byderhand hou by die Wêreldkampioenskap in Doha, Katar, want die versengende woestynhitte gaan nie hul maat wees nie.

LJ van Zyl in aksie by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro. Foto: Getty Images

Die kwik sal Vrydag en Saterdag naby aan 40° Celsius draai en van Sondag af sal sake na verwagting nóg warmer word, met die maksimum temperatuur Sondag en Maandag 40° C en die minimum op albei dae 30° C!

Vir die eerste keer tot dusver sal die langafstand-nommers soos die marathons en 20 km- en 50 km-stapwedlope eers kort voor middernag wegspring in ’n poging om die atlete teen die hitte te beskerm. Nie net sal die langasems tot in die vroeë oggendure deelneem nie, maar die tradisionele oggendsessies is summier geskrap, met die program wat daagliks eers rondom 15:00 (plaaslike tyd) begin.

Die afgelope nege Wêreldbyeenkomste het in Augustus begin, maar die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) het besluit om dit vanjaar na 27 September tot 6 Oktober te skuif weens die versengende hitte in Katar.

Die Khalifa- internasionale stadion in Doha, Katar. Dié stadion sal gasheer speel vir die IAAF se Wêreldkampioenskap wat Vrydag begin.Foto: Getty Images

Volgens LJ van Zyl, die voormalige Statebondkampioen in die 400 m-hekkies en bronsmedaljewenner by die Wêreldkampioenskap in 2011, sal die manier waarop die atlete te werk gaan met die hitte ’n uitwerking op hul vertonings hê.

“Ek dink die atlete sal beter vaar in die hitte en moet dit tot hul voordeel gebruik,” het Van Zyl by navraag gesê.

“Verkorte opwarmingsessies sal byvoorbeeld in hul guns tel. Spaar jou energie in die hitte.”

Die organiseerders sal op tegnologiese hulp staatmaak om ’n bietjie verligting te bring vir die atlete en toeskouers, met lugversorging wat ten duurste in die Khalifa- internasionale stadion geïnstalleer is. Dié verkoelers is onder meer in die opwarmingsareas en wag-areas aangebring en kan temperature binne die stadion tot glo so laag as 24° C op plekke laat daal.

Maar Van Zyl, wat in 2011 die destydse Doha-rekord vir die Diamantliga-byeenkoms opgestel het in 48.11 sekondes, glo dat die verkoelingstelsels ook ’n negatiewe uitwerking kan hê.

“Die atlete moet ook oppas vir lugversorging. Dit kan ’n mens se keel en bors droog maak en daarom moet hulle dit verkieslik afskakel in hul hotelkamers wanneer hulle slaap,” sê hy.

“Verder is dit maar die ou wenke dat hulle genoeg rehidreer en die mediese personeel moet ook vroeg genoeg tente vir die atlete opslaan wanneer hulle opwarm en ook genoeg ys en ysbaddens ná deelname beskikbaar hê.”

Atlete sal boonop aan ’n eksperiment kan deelneem waar hulle ’n sogenaamde elektroniese pil aangebied word by die byeenkoms, wat spesifiek ontwerp is om hulle teen hitte-uitputting te beskerm.

Die kapsules sal die atlete se liggaamstemperatuur monitor en sal ’n paar uur voor items geneem moet word. Dit is ontwerp om deur die atleet se spysverteringskanaal te beweeg sonder om enige skade te veroorsaak. Dis veral met die marathonatlete in gedagte ontwerp.

* Die Wêreldkampioenskap se eerste skote sal Vrydag klap met die laaste items wat op 6 Oktober sal plaasvind.

Meer oor:  Katar  |  Atletiek  |  Doha  |  Lj Van Zyl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.