Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Koning Van Niekerk baas in 200 m

Dit was ’n groot jammerte dat die koue weer gister na Pretoria oorgeskuif het, want dit het beslis die tye wat op die derde dag van die nasionale atletiekbyeenkoms behaal is, beïnvloed.

Wayde van Niekerk (derde van regs) op pad na sy sege in die 200 m. Foto: Gallo Images

Tog was daar groot opwinding toe Wayde van Niekerk in die finaal van die 200 m vir mans aangetree het en in ’n goeie tyd van 20.38 sekondes gewen het.

Van Niekerk (Vrystaat), die wêreldrekordhouer en Olimpiese kampioen in die 400 m, spog met ’n beste tyd van 19.84 sek. in die 200 m.

Van Niekerk het gister in die vyfde baan weggespring en was nooit onder druk nie. Met die eindstreep in sig het hy selfs sy voet effe van die versneller gehaal.

Benjamin Richardson was tweede in 20.77 met Nicholas Ferns (20.83) derde.

Anaso Jobodwana het in ’n teleurstellende sesde posisie (20.90) geëindig.

In die 200 m vir vroue was die veteraan Justine Palframan van die Boland (23.64) die soveelste keer eerste met Shirley Nekhubui (Gauteng-Noord) op haar hakke en Miranda Coetzee (23.83) derde.

Ntando Mahlangu, die jong lemnaelloper van Pretoria, was in die 800 m vir mans baas in ’n goeie tyd van 1:44.99. Hy is eerste geplaas vir paralimpiese atlete met Tshepo Tshite “eerste” in 1:45.79, gevolg deur Joel Semenya (1:46.51) en Duran Faro (1.46.57) derde.

Die derde dag van die kampioenskappe het vroegoggend aan die stappers behoort.

In die 20 km vir mans het Wayne Snyman (1:29:03) van Gauteng-Noord geseëvier, gevolg deur sy twee spanmaats Tumisang Pule (1:31.25) en Antonio Farmer (1:34.10).

In die vroue-afdeling was Zelda Schultz van Gauteng-Noord eerste (1:41:5) gevolg deur Meanri Erasmus (1:54:53) en Annette Koen (1;56.53).

In die 400-hekkies het Le Roux Hamman van Gauteng-Noord in 49.73 sek. geseëvier, met Lindukuhke Gora tweede (50.26) en Lindsay Hanekom (50.86) derde.

In die 400-hekkies vir vroue het Gauteng-Noord weer skoonskip gemaak toe Wenda Nel haar soveelste titel in 55.20 sek. gewen het.

Nel, wat reeds in 2006 aan die Wêreldjeugkampioenskappe in Marokko deelgeneem het, het in 2015 haar beste tyd van 54.37 sek. opgestel.

In die gewigstoot vir mans was Kyle Blignaut van Sentraal-Gauteng eerste met ’n afstand van 20,82 m en sy spanmaat Jason van Rooyen tweede.

Ruswahl Samaai (8,19 m) het die verspring vir mans gewen en Prudence Sekgodiso die 800 m vir vroue in 2:08.35. – Sportredaksie

Meer oor:  Atletiek  |  Wayde Van Niekerk  |  Sa Byeenkoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.