Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Korrupsiesaak teen oud-IAAF-hoof begin

Die omstrede voormalige hoof van die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF), Lamine Diack, het Maandag in Parys opgedaag by die hof waar hy verskyn op aanklagte van korrupsie, geldwassery en vertrouensbreuk met betrekking tot die Russiese opkikkerskandaal.

Lamine Diack, voormalige hoof van die IAAF, verskyn die week in die hof op aanklagtes van korrupsie, geldwassery en vertrouensbreuk.Foto: Getty Images

Die aanklaers beskuldig Diack daarvan dat hy €3,45 miljoen (sowat R65,4 miljoen) bekom het van atlete wat vermoedelik skuldig was aan die gebruik van verbode middels.

Hy het hulle toegelaat om aan te hou om deel te neem, selfs in die 2012 Olimpiese Spele in Londen.

Diack, wat Sondag sy 87ste verjaarsdag gevier het, het by die hof opgedaag in ’n donkergrys pak terwyl hy vir die regters gewag het.

Hy het voorheen ontken dat hy enige oortredings begaan het, met sy regspan wat reken dat die klagtes teen hom ongegrond is.

Diack, wat van Senegal afkomstig is, was van 1999 tot 2015 in beheer van die IAAF (sedertdien hernoem tot Wêreldatletiek) en een van die invloedrykste mense in dié sport.

Hy is in huisarres in Parys en staar ’n tronkstraf van tot 10 jaar in die gesig sou hy skuldig bevind word.

Die hofsaak sou aanvanklik in Januarie begin het, maar is uitgestel nadat nuwe dokumente, wat onder meer ’n verklaring van sy seun en medebeskuldigde, Papa Massata Diack, insluit, by die hof ingedien is.

Senegal weier om Papa Massata uit te lewer. Hy het as ’n bemarkingskonsultant vir die IAAF opgetree.

Papa Massata staar dieselfde klagtes as sy pa in die gesig en sal in absentia verhoor word.

Hy het Maandag versoek dat die hofverrigtinge uitgestel word, maar dis afgekeur.

Die saak in geskeduleer om oor die volgende ses dae aangehoor te word.

Papa Massata se regspan het vir uitstel gevra met twee van sy prokureurs wat nie na Parys kon reis nie weens reisbeperkings weens die Covid-19-pandemie.

Die aansoek is kortliks oorweeg voordat dit van die hand gewys is met die vervolgers wat Papa Massata daarvan beskuldig het dat hy net “ ’n spel van kat en muis met die Franse hof probeer speel”.

Die ander beskuldigdes is Habib Cisse, Diack se voormalige prokureur by die IAAF, Gabriel Dolle, wat in beheer van toetse vir opkikkers was, asook die twee Russe Valentin Balakhnitchev en Alexei Melnikov, wat destyds die hoofde van die Russiese Atletiekfederasie was tydens die beweerde toesmeerveldtog.

Balakhnitchev en Melnikov was nie in die hof nie.

Ondersoekers van die Franse Nasionale Finansiële Vervolgingskantoor (PNF) beskryf ’n web van korrupsie in wêreldatletiek onder leierskap van Diack.

In ’n aparte saak ondersoek die Franse beweerde omkopery met betrekking tot die Olimpiese Spele en Wêreldkampioenskap.

Die vermoede is glo dat Tokio se komitee wat in 2013 aansoek gedoen het om as gasheer vir die Olimpiese Spele op te tree, vir Diack omgekoop het om stemme te bekom.

Die komitee ontken die klagtes.

Sebastian Coe, wat vir Diack opgevolg het by die IAAF, het heelwat veranderinge sedertdien aangebring in ’n poging om weer vertroue in die sport te bewerkstellig. – Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Lamine Diack  |  Wêreldatletiek  |  Parys  |  Geldwassery  |  Iaaf  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.