Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
KYK: Semenya wen 2 000 m in Frankryk

Caster Semenya het Dinsdagaand weer op die boonste trap van die podium gestaan in haar eerste wedloop sedert atletiek se beheerliggaam, die IAAF, se nuwe regulasies deur die Switserse federale hooggeregshof opgeskort is.

Caster Semenya op pad na haar goue medalje in die 2 000 m Dinsdagaand in Montreuil. Foto: Reuters

Die Suid-Afrikaner en Olimpiese kampioen in die 800 m het goud gewen in die ongewone 2 000 m in Montreuil in Frankryk en boonop net-net uitgemis op Zola Budd se nasionale rekord wat al sedert 1991 staan.

Semenya het die wenstreep in vyf minute 38.19 sekondes oorgesteek. Dit is net 0.12 sek. agter Budd se Suid-Afrikaanse rekord wat sy in Kaapstad opgestel het.

Semenya mag dalk die eerste plek opgeraap het, maar dit het aansienlike uithouvermoë van haar geverg.

Die atleet, wat net minder as twee weke gelede appèl aangeteken het teen die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) se beslissing dat vroueatlete met natuurlike hoë testosteroonvlakke van medikasie gebruik moet maak as hulle aan die 400 m, 400 m-hekkies, 800 m, 1 500 m en myl wil deelneem, het oudergewoonte in die laaste 400 m voet op die versneller gesit en genoeg gedoen om haar teenstanders te klop.

Sy moes hard werk om die aandag van Hawi Feysa van Ethiopië af te weer, maar het eindelik net te veel skietgoed gehad.

Feysa het silwer gewen in 5:38.66, sowat twee meter agter Semenya, met die Ethiopiër se landgenoot Adanech Anbesa wat brons in 5:43.43 verower het.

Die Suid-Afrikaner se aartsvyand in die 800 m, Francine Niyonsaba van Burundi, wat ook deur die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) se regulasies geraak word, was ook in aksie en het met die vyfde plek weggestap.

Die Switserse federale hooggeregshof het beslis dat vroueatlete met natuurlike hoë testosteroonvlakke weer soos normaal kan deelneem terwyl die appèlsaak afgehandel word.

Die IAAF het intussen aangedui dat hy wéér ’n stokkie gaan probeer steek voor Semenya se deelname.

Sy sal na verwagting op 30 Junie haar slag in die 3 000 m op die Prefontaine Classic-atletiekbyeenkoms in Kalifornië wys.

Hier sal sy weer swaarde kruis met haar Suid-Afrikaanse teenstander Dominique Scott-Efurd.

Die voorste atleet in dié nommer in 2018, Sifan Hassan van Nederland, asook 2017 se wêreldkampioen in die 5 000 m, Hellen Obiri van Kenia, sal ook aantree.

Obiri beklee tans die voorste plek op die 2019-wêreldranglys in die 3 000 m in 8:23.14.

Semenya se beste is 9:36.29, wat die stadigste van al 17 deelnemers is.

Sy sal na verwagting nie aan die Diamantliga-byeenkomste Donderdag in Oslo en Sondag in Rabat deelneem nie. 

Meer oor:  Atletiek  |  Iaaf  |  Asa  |  Caster Semenya
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.