Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
KYK: Wayde van Niekerk is terug!

Daar is geen twyfel nie: Wayde van Niekerk is terug.

Die Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer in die 400 m het Saterdag deelgeneem aan net sy tweede byeenkoms van die jaar en sy derde sedert hy in 2017 beseer is, en hy is duidelik vinnig besig om sy roes af te skud.

Van Niekerk het Saterdag in Bloemfontein sy eerste wedloop op ’n tartanbaan in 2020 gehad en sy slag in die 100 m en 200 m gewys.

Hy het die wenstreep in die 100 in ’n haastige 10.10 sekondes oorgesteek, met die 200 m wat hy in 20.31 voltooi het.

Die blits het egter albei dié wedlope net as opwarming beskou om te sien of sy besering nou amptelik iets van die verlede is.

Van Niekerk het Maandag op ’n klein nie-amptelike Kovsie-byeenkoms die 100 m in ’n handtyd van 10.20 sek. op ’n grasbaan gewen. Dít was sy eerste naelloop sedert hy in Februarie 2019 aan die Vrystaatse kampioenskap deelgeneem het.

Hy het ook verlede week aan die 800 m deelgeneem waar hy in 1:57.00 klaargemaak het.

Met sy persoonlike beste in die 100 m die 9.94 wat hy in 2017 in Slowenië gehardloop het, sal dié oudleerling van Grey-kollege beslis tevrede voel met sy terugkeer tot die atletiekbaan.

Buiten sy 400 m-wêreldrekord van 43.03, spog hy ook met ’n beste van 19.84 in die 200 m, wat voorheen die Suid-Afrikaanse rekord was, voordat Clarence Munyai dit in 2018 tot 19.69 verbeter het.

Van Niekerk is op 7 Oktober beseer in ’n vriendskaplike raakrugbywedstryd waarin bekendes gespeel het toe Benni McCarthy, ’n gewese Bafana Bafana-doelskieter, hom glo speels gestamp het.

Hy het skeef getrap en die voorste kruisligament van sy regterknie beseer.

Die operasie daarna het hom uit die 2018 Statebondspele in Australië se Goudkus gehou, asook uit die Wêreldkampioenskap wat in 2019 in Doha gehou is.

Hy sal op 28 en 29 Februarie aan die Vrystaatse kampioenskappe deelneem waar hy weer in die 400 m in aksie sal wees.

Van Niekerk sal deelneem vir ’n plek by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe wat van 23 tot 25 April in die Pilditch-stadion in Pretoria gehou sal word.

Meer oor:  Wayde Van Niekerk  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.