Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
LJ moet oor dié hekkies kom vir meestersgraad

Hy het drie keer op die Olimpiese Spele aan die 400 m-hekkies deelgeneem, maar nou wag hekkies van ’n ander soort op die voormalige atleet LJ van Zyl.

Dié Suid-Afrikaner is een van net 25 studente vanoor die hele wêreld wat keuring gekry het om by die Duitse Sportuniversiteit in Keulen ’n meestersgraad in Olimpiese studies te doen.

Die 34-jarige Van Zyl, wat verlede jaar sy spykerskoene in die kas gaan bêre het, vertrek Woensdag Duitsland toe vir die eerste deel van sy studie.

Hy sal oor die volgende twee jaar altesame vyf keer Duitsland toe gaan vir die onderskeie modules van die studie.

LJ van Zyl in 2011 in aksie by die Wêreldkampioenskap in Daegu, Suid-Korea. Foto: Getty Images

“Ek is baie opgewonde en baie geeërd dat ek toelating gekry het,” sê Van Zyl, wat verlede jaar ’n meestersgraad in opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria verwerf het.

Hy is tans ’n dosent in sportbestuur aan dié universiteit.

“Dit is ’n wonderlike geleentheid en kan in die toekoms vir my deure oopmaak vir navorsing by byvoorbeeld die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en die IAAF (Internasionale Vereniging van Atletiek-federasies) en selfs by Saskok (die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee),” het Van Zyl gesê.

Behalwe dat hy gereeld Duitsland toe sal moet gaan, sal die 25 studente ook besoek bring aan stede soos Athene, waar die Olimpiese Spele van 1896 en 2004 plaasgevind het, en Barcelona, die gasheer van die Olimpiese Spele in 1992.

Die meestersgraad bestaan uit ses modules en ’n verhandeling.

In die ses modules sal onder meer aandag gegee word aan die geskiedenis, die waardes en die etiek van Olimpiese opvoeding, navorsingsmetodologie, regeerkunde, beleid en die Olimpiese organisasie, Olimpiese atlete en elite-sport, die Olimpiese Spele en die rol van die media en die kommersialisering van die Spele.

Een van die modules handel ook oor die rol van die Olimpiese Spele in internasionale verhoudinge.

Van Zyl is getroud met die Olimpiese marathonatleet Irvette van Zyl.

Vir baie hekkiesatlete is dit ’n droom om die 400-hekkies in onder 50 sekondes te voltooi.

Van Zyl, wat in 2008 met die Olimpiese Spele in Beijing vyfde was, het dit in sy loopbaan ’n allemintige 168 keer vermag.

Hy is die SA rekordhouer met ’n tyd van 47.66.

Van Zyl het ses keer aan die Wêreldkampioenskap deelgeneem en vier keer aan die Statebondspele.

Hy spog met ’n bronsmedalje by die Wêreldkampioenskap (Daegu, 2011) en ’n silwermedalje as deel van die 4x400-aflosspan by dieselfde byeenkoms. Die sewemalige SA kampioen was in 2006 die Statebondspele-kampioen.

“Die universiteit het al ’n ruk gelede vir my boeke gestuur om te bestudeer voor die aanvang van die eerste module. Ná elke module moet jy ’n mini-verhandeling oor die bepaalde module skryf.

“Ek vertrek Woensdag al Europa toe, maar wil eers Vrydagaand die Ivo von Damme-Diamantligabyeenkoms in Brussel gaan bywoon,” sê van Zyl.

Hy het as atleet verskeie kere op dié byeenkoms in die Koning Boudewijn-stadion in die blokke gesak.

Meer oor:  Atletiek  |  Lj Van Zyl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.