Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Gerda in puik geselskap in Londen

Gerda Steyn sal Sondag langs die wêreldrekordhouer en die wêreldkampioen aantree wanneer die 40ste Londen-marathon in die Engelse hoofstad beslis word.

Gerda Steyn sal Sondag haar slag in die Londen-marathon wys. Foto: Gallo Images

Brigid Kosgei en Ruth Chepngetich is twee van die groot trekpleisters wat die naweek onder die elite-vroue tel, wat in vanjaar se unieke wedloop waarin wêreldrekord-tye verwag word, hul slag sal wys.

Weens die Covid-19-pandemie neem slegs elite-atlete vanjaar deel en word die roete ook gewysig in ’n poging om te verhinder dat groot samedrommings van toeskouers die virus kan laat versprei.

Steyn, wat verlede jaar in New York die wenstreep in ’n persoonlike beste tyd van 2:27:48 oorgesteek het, sal in haar eerste groot padwedloop betrokke wees sedert sy in Februarie aan die Ras Al Khaimah-halfmarathon in die Verenigde Arabiese Emirate deelgeneem het.

Haar tyd in die New York-marathon plaas haar 14de op die lys van die vinnigste deelnemers in Londen.

Al die atlete moet met hul aankoms in Londen by ’n hotel tuisgaan wat in ’n bioborrel omskep is. Daar sal hulle afgesonder word tot Sondag se wedloop. Die langasems word ook met hul aankoms vir Covid-19 getoets.

Steyn, wat reeds in Europa is waar sy tans in Sainte-Foy-Tarentaise in Frankryk voorberei, sal Donderdag na Londen vlieg. Haar tyd in isolasie sal baie korter wees as ’n groot gros atlete, wat reeds Maandag in Londen geland het.

Brigid Kosgei sal een van die groot trekpleisters by die Londen-marathon wees. Foto: Getty Images

Kosgei, wat die marathon-wêreldrekord hou in 2:14:04, en Chepngetich, wat in 2019 as die wêreldkampioen in dié nommer gekroon is in Doha, sal die gunstelinge wees onder die vroue.

In die mans se wedloop gaan twee swaargewigte, Eliud Kipchoge en Kenenisa Bekele, mekaar opkeil.

Kipchoge, wat in 2019 die eerste persoon geword het om die marathon in onder twee ure te voltooi (hoewel die tyd nie amptelik erken word as ’n rekord nie) toe hy in Wene die wedloop in 1:59:40 voltooi het en Bekele, wat verlede jaar koning was in die Berlyn-marathon, het Maandag al hul verskyning Londen gemaak.

Kipchoge se wedloop in Wene, op 12 Oktober 2019, was ook sy laaste wedloop.

Hugh Brasher, direkteur van die Londen-marathon, glo dat nuwe wêreldrekords wink indien die weer saamspeel op die nuwe roete, wat uit 19,6 rondtes om St. James’s Park bestaan.

“Ek gaan die teenoorgestelde van die reëndans doen,” het Brasher luidens ’n verklaring gesê.

“Swaar reën is nie ideaal vir ’n wêreldrekord nie. Ons het atlete wat goed op dreef is, maar hulle het almal in verskillende toestande geoefen en ons kan nie die weer beheer nie. Dit maak van dié wedloop een van die moeilikstes om voorspellings oor te maak.

“Ek glo egter dit gaan ’n ongelooflike wedloop wees wat lank in mense se geheue sal bly.”

TV: Die Londen-marathon sal Sondag vanaf 08:00 op SuperSport Variety 4 (209) uitgesaai word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.