Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Manyonga ook nie ’n IAAF-liefling
Die IAAF het die kampioen-verspringer Luvo Manyonga ook die koue skouer gegee. Foto: Gallo Images

’n Dag nadat die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) Caster Semenya geïgnoreer het as finalis vir sy Vroueatleet van die Jaar-prys, is die verspringer Luvo Manyonga ook oor die hoof gesien.

Die IAAF het Woensdagoggend sy vyf finaliste vir die Mansatleet van die Jaar-prys bekend gemaak.

Hulle is die haastige Amerikaner Christian Coleman, die Sweedse paalspringer Armand Duplantis, die Keniaanse langasem Eliud Kipchoge, die veelsydige Fransman Kevin Mayer en die Katarse hekkies-sensasie Abderrahman Samba.

Coleman was uitstekend vanjaar en het die voorste tyd in die wêreld in die 100 m gehardloop toe hy 9.79 in Augustus in Brussel in België aangeteken het.

Die 22-jarige hou ook die wêreldrekord in die binnenshuise 60 m en is as die Diamantliga-reeks se kampioen gekroon.

Duplantis is die o.20-wêreldkampioen en dié 19-jarige het ook die hardebaarde gewys hoe dinge gedoen word toe hy die beste hoogte van die jaar behaal het met ’n hoogte van 6.05 m in Augustus in Berlyn.

Eliud Kipchoge van Kenia steek die eindstreep oor. Foto: AP

Kipchoge het die marathons in Londen én Berlyn gewen. Hy het boonop in Berlyn die wêreldrekord tot twee uur, een minuut en 39 sekondes verbeter.

Mayer was self op sy stukke en het die tienkamp se wêreldrekord oortref. Hy is ook as die binnenshuise wêreldkampioen in sy voorkeurnommer aangewys.

Samba behoort egter as die groot gunsteling beskou te word.

Dié hekkiesloper, wat deur Suid-Afrika se eie Hennie Kotze gebrei word, het die vinnigste tyd in die 400 m-hekkies sedert 1992 gehardloop toe hy die wenstreep in Junie (in Parys) in 46.98 oorgesteek het.

Hy is nou die naasbeste atleet in die nommer in die geskiedenis, met net die wêreldrekordhouer, Kevin Young, wat met sy tyd van 46.78 al vinniger was.

Samba het in nege eindrondes nie een keer die knie gebuig nie en is die Asiese Spele se kampioen in die 400-hekkies en 4x400-aflos. Hy het ook met goud weggestap by die IAAF se Kontinentale Beker-byeenkoms en nie minder nie as sewe van die voorste tye vanjaar staan agter sy naam.

Manyonga kan hom egter vir die tweede agtereenvolgende jaar ongelukkig ag.

Hy was in 2017 ’n finalis, maar die hoogspringer Mutaz Essa Barshim van Katar is eindelik met dié gesogte prys huis toe.

Hy was in 2017 ’n finalis, maar die hoogspringer Mutaz Essa Barshim van Katar is eindelik met dié gesogte prys huis toe.

Anders as in 2017 was Manyonga nie vanjaar die voorste atleet in sy item nie, maar hy het wel op die boonste trap van die podium gestaan wanneer dit saak gemaak het.

Manyonga het die goue medalje by die Statebondspele in Australië se Goudkus gewen, sy Diamantliga-titel verdedig en is ook as die Suid-Afrikaanse kampioen gekroon.

Vyf van die tien voorste spronge van die jaar staan agter Manyonga se naam.

Meer oor:  Luvo Manyonga  |  Suid-Afrika  |  Iaaf  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.