Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Lyles blits 9.93 danksy windlesing

’n Sterk windlesing het die afgelope naweek verhoed dat die wêreldkampioen in die 200 m, Noah Lyles, ten spyte van sy 9.93 sekondes in die 100 m, net agter Akani Simbine op die wêreldranglys inskuif.

Die Amerikaner Noah Lyles het die naweek die eerste keer vanjaar in die blokke gesak. Foto: Getty Image

Lyles, wat dubbele glorie in verlede jaar se Diamantliga verower het deur met die titels in die 100 en 200 weg te stap, het die eerste keer in 2020 in die uitdunne op die Showdown in die Otown-byeenkoms in Florida in die blokke gesak.

Hy het so byna die tweede plek op die wêreldranglys ingeneem, maar die +4.0 m/s wind van agter het egter verhoed dat sy tyd as wettig erken kon word.

Dié windlesing het ook die poging van Justin Gatlin, wat in dieselfde lopie was, gekelder.

Hy was naasbeste in 9.99.

Dit het wel beteken dat die tyd van Trayvon Bromell, wat in een van die ander uitdunne 10.04 (+1.6 m/s) gehardloop het, erken word en hom tot in die tweede plek op die wêreldranglys laat bokspring het.

Dit was die eerste keer sedert 2016 se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro dat Bromell ’n tyd vinniger as 10.10 kon aanteken.

Die eerste plek op die wêreldranglys word steeds gehou deur Suid-Afrika se Simbine, wat in Maart in sy eerste wedloop van die jaar die wenstreep in 9.91 in Tuks se L.C. de Villiersstadion oorgesteek het.

Die windlesing van +1.7 m/s op die dag het toegelaat dat dié tyd erken word.

Nie Lyles, Gatlin of Bromell het in die eindronde aangetree nie, met die 21-jarige Kenny Bednarek wat toe die boonste trap op die podium met ’n 10.14 ingeneem het nadat hy Andre De Grasse van Kanada (10.17) geklop het.

Bednarek is ook met die eerste plek huis toe in die 200 in 20.06, met Lyles wat nie aan sy voorkeur-nommer deelgeneem het nie. Bednarek het Clarence Munyai (20.23) hiermee gemaklik verbygesteek op die ranglys om die voorste plek in te neem.

In teenstelling met Lyles en Gatlin, het Shaunae Miller-Uibo van die Bahamas beïndruk toe sy die 200 én die 400 m gewen het, terwyl sy in albei die vinnigste tyd in die wêreld sover vanjaar geregistreer het.

Die silwermedaljewenner in 2019 se Wêreldkampioenskap het die 200 m in 22.61 gewen, waar sy teen ’n windlesing van voor van -1.1 m/s moes meeding. Haar wentyd in die 400, ’n nommer waarin sy in 2018 as die Statebondkampioen bekroon is, was 50.52.

Die Brit Matthew Hudson-Smith (45.55) was eerste in die mans se 400 waar hy onder andere die voormalige Olimpiese kampioen LaShawn Merritt (45.98) uitgestof het.

Meer oor:  Akani Simbine  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Noah Lyles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.