Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Lyles kry kans om vir blaps te vergoed

In die enkele minute voordat ’n groot blaps aan die lig gekom het, het hy dalk gedink dat hy Usain Bolt se 200 m-wêreldrekord vermorsel het, maar Noah Lyles sal volgende maand wéér kans kry om jag te maak op die legendariese Jamaikaan se blitstyd van 19.19 sekondes.

Noah Lyles verlede week in die 200 m in aksie waar hy by die verkeerde wegspringmerk aangetree het. Foto: Getty Images

Dié 22-jarige Amerikaner het tydens verlede week se Inspiration Games, wat as ’n plaasvervanger vir die Zürich-byeenkoms in die Diamantliga-reeks gedien het, in Bradenton, Florida, aangetree in die 200, waar hy ’n verstommende tyd van 18.90 aangeteken het.

Lyles het ná die wedloop breëbors rondgeloop en waarskynlik gedink dat hy vermag het wat kenners gereken het nie sommer sal gebeur nie: om Bolt se wêreldrekord, wat hy in 2009 opgestel het, te oortref.

Dit is eers toe weer na die wedloop gekyk is, wat besef is dat ’n groot blaps met Lyles se naelloop begaan is.

Pleks daarvan dat hy by die 200 m se wegspringpunt aangetree het, is hy verkeerdelik deur organiseerders gevra om by die 185 m-merk in die blokke te sak.

Gevolglik het hy ’n volle 15 m minder gehardloop as sy teenstanders, wat in onderskeidelik Zürich (Christophe Lemaitre) en Papendal (Churandy Martina) aangetree het.

Hy sal egter op 14 Augustus by die volgende skof in die verkorte Diamantliga-reeks, die Herculis EBS-byeenkoms in Monaco, weer sy slag kan wys.

Lyles, die wêreld- en Diamantliga-kampioen in die 200, sal saam met talle van die wêreld se beste atlete in aksie wees.

Katarina Johnson-Thompson, Brittanje se sewekamp-wêreldkampioen, sal ook daar aan die hoogspring deelneem, terwyl Hellen Obiri, 5 000-wêreldkampioen van Kenia, asook haar landgenoot Conseslus Kipruto, Olimpiese en wêreldkampioen in die 3 000-hindernis, sal van die ander grootste trekpleisters wees.

Dan sal Armand Duplantis, die jong sensasie en paalspring-wêreldrekordhouer, saam met Halimah Nakaayi, wat die 800-wêreldkroon verlede jaar in Doha verower het, ook hul slag wys.

Of al die atlete op die deelnemerslys wel fisiek in die Louis II-stadion in aksie sal wees, moet nog gesien word. Gegewe die ontwrigting wat internasionale reisbeperkings nog meebring, kan ’n byeenkoms soortgelyk aan die Impossible Games en die Inspiration Games ook in Monaco aangebied word. Dán sal verskeie van die top-atlete “virtueel” in hul eie lande deelneem, met die vertonings wat regstreeks uitgesaai sal word in Monaco.

Meer oor:  Atletiek  |  Inspiration Games  |  Noah Lyles  |  Usian Bolt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.