Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Min Russe kon IAAF oortuig dat hul ‘skoon’ is

Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) het Donderdag aangekondig dat net 18 Russiese atlete in 2018 aan internasionale byeenkomste mag deelneem.

Mariya Lasitskene, ’n tweemalige wêreldkampioen, is een van die 18 Russe wat in 2018 aan internasionale byeenkomste mag deelneem. Foto: Getty Images

Dié atlete kon genoegsame bewys lewer dat hulle nie verbode middels gebruik nie. Hulle sal as neutrale atlete deelneem en mag nie enige kledingstukke dra wat Rusland se nasionale kleure of die Russiese landsvlag daarop het nie.

Die IAAF het Russiese atlete in Desember 2017 toegelaat om aansoek te doen vir deelname aan internasionale byeenkomste.

Hul aansoeke sou egter slegs suksesvol wees as bewys kon word dat hulle nie in die verlede verbode middels gebruik het nie, en ook nie gebaat het by Rusland se staatsgesteunde program vir die gebruik van verbode middels nie.

Die Russiese Atletiekfederasie (Rusaf) bly steeds geskors.

Volgens die IAAF het hulle aansoeke van sowat 80 Russiese atlete ontvang, met die meeste van hulle wat in die Noordelike Halfrond se somerseisoen wil deelneem.

Diegene wat die groen lig gekry het, sal aan die IAAF se Binnenshuise Wêreldkampioenskappe mag deelneem, wat vanjaar in Birmingham, Engeland, gehou word.

Die atlete sal wel almal steeds onderhewig wees aan die normale kwalifiseringsvereistes vir byeenkomste.

Die lys van toegelate atlete sluit onder andere Mariya Lasitskene, wat in 2017 as die wêreldkampioen in die hoogspring vir vroue in Londen gekroon is, in. Sy het ook in die Diamantliga-reeks gewen en is ook in 2015 in Beijing as wêreldkampioen gekroon.

Irina Gumenyuk, wat in 2014 in Switserland derde geëindig het in die driesprong vir vroue by die Europese Kampioenskappe, mag ook deelneem.

Danil Lysenko, wat met die silwermedalje in Londen weggestap het in die mans-hoogspring, is ook ingesluit.

Volgens Sebastian Coe, IAAF-president, wil dié atletiekliggaam die atlete motiveer om skoon van verbode middels te wees en daarom word dié atlete beloon.

“Ons gaan voort daarmee om skoon atlete se aspirasies te steun om aan groot byeenkomste deel te neem,” het Coe in ’n verklaring gesê.

Die volgende Russiese atlete mag vanjaar deelneem:

Viktor Butenko (diskus)

Danila Danilov (hamergooi)

Alexsey Fedorov (driesprong)

Irina Gumenyuk (driesprong)

Vyacheslav Kolesnichenko (naellope)

Mariya Lasitskene (hoogspring)

Aleksandr Lesnoy (gewigstoot)

Alyona Lutkovskaya (paalspring)

Danil Lysenko (hoogspring)

Alaina Mamina (naellope)

Yuliya Maltseva (diskus)

Polina Miller (naellope)

Ilya Mudrov (paalspring)

Olga Mullina (paalspring)

Sofiya Palkina (hamergooi)

Viktoriya Prokopenko (driesprong)

Anzhelika Sidorova (paalspring)

Aleksei Sokyrskii (hamergooi)

Meer oor:  Verbode Middels  |  Iaaf  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.