Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Mo Farah teiken Spele-terugkeer

Hy het reeds sy spykerskoene ingeruil vir ’n paar hardlooptekkies vir die marathons, maar Mo Farah sal straks in 2020 in Tokio sy 10 000 m Olimpiese titel probeer verdedig.

Mo Farah wil volgende jaar die marathon los en sy Olimpiese titel in die 10 000 verdedig. Foto: Getty Images

Die 36-jarige Brit en viermalige Olimpiese kampioen het die afgelope week dié besluit geneem nadat hy tyd gehad het om te besin oor die teleurstelling wat hy by die Chicago-marathon beleef het in Oktober.

Dít twee jaar nadat hy besluit het dat hy klaar is met baanitems en sy aandag eerder op die ultra-nommer wou toespits.

The Guardian berig dat Farah ná afloop van atletiek se Wêreldkampioenskap in Doha in September gesê het hy glo hy sou die nuwe wêreldkampioen, Joshua Cheptegei van Uganda, kon klop in die eindronde van die 10 000 m.

Cheptegei het goud gewen in 26:48.36, met ’n laaste ronde van 56 sekondes. Dít was aansienlik stadiger as die laaste 400 m wat Farah in 2017 gehardloop het toe hy gewen het in 26:49.51.

“Ek het die besluit ná die Chicago-marathon gemaak. Nie dadelik nie, maar dit was in my agterkop,” het Farah gesê.

Hy sal egter nie weer goud in die 5 000 m teiken nie.

Ek het steeds ’n kans by die Olimpiese Spele. Waarom sal ek dit dan afkeur?
Mo Farah

“Ek was besig om die Wêreldkampioenskap in Doha te kyk. Ek het die 10 000 gesien en van die ander wedlope en ’n deel van jou raak opgewonde.

“Jy sien mense wat medaljes wen vir hul land en jy vra jouself af. Dit het amper gevoel asof ek nodig gehad het om daar te wees. Ek het steeds ’n kans by die Olimpiese Spele. Waarom sal ek dit dan afkeur?”

Farah het in 2012 in Londen en ook in 2016 in Rio de Janeiro dubbele glorie behaal deur die 5 000 en 10 000 te wen.

“Ek hoop ek het nog nie my spoed verloor nie, maar ek sal hard oefen en sien wat ek kan doen.”

Hy sal egter voor 21 Junie 2020 minstens ’n tyd van 27 minute, 28 sekondes agter sy naam moet hê indien hy wil kwalifiseer vir die Tokio Spele se 10 000.

Die kwalifiserende vereiste is egter byna 45 sekondes stadiger as sy persoonlike beste tyd van 26:46.57 en hy behoort sonder te veel probleme dit weer te kan behaal.

Die uitdaging sal wel daarin lê om op ouderdom 37 wéér sy kenmerkende spoed in die laaste 400 m te herwin.

Sy rekord in die marathon is egter een van gemengde welslae.

Hy het die Europese rekord opgestel in 2:05:11 in 2018 by die Chicago-marathon en in dieselfde jaar ’n derde plek behaal by die Londen-marathon.

Die langasem het egter vanjaar gesukkel by dieselfde wedlope. – Sportredaksie,

Meer oor:  Mo Farah  |  Olimpiese Spele  |  Marathon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.