Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Mokoka ten gunste van skuif vir Spele
Stephen Mokoka op pad na sy vyfde plek in Doha in die marathon. Foto: Gallo Images

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se voorstel om die marathon weg van Tokio af te skuif tydens volgende jaar se Olimpiese Spele in dié Japanse stad, is een wat Suid-Afrika se langasem Stephen Mokoka met ope arms sal verwelkom.

Die IOK en die Tokio Spele se reëlingskomitee stamp steeds kop oor waar die mans en vroue se marathons en stapwedlope gehou moet word. Die IOK dring daarop aan dat vanweë die verwagte hitte en humiditeit in Tokio tydens die Spele, dit 800 km noord na die stad van Sapporo verskuif moet word.

Luidens ’n berig op AP het die IOK Vrydag sy plan verdedig om die marathon en stapwedlope te skuif, ten spyte van die Tokio-reëlingskomitee se ongelukkigheid met die plan.

Mokoka, wat vyfde in die marathon by die onlangse Wêreldkampioenskap in Doha geëindig het in ’n tyd van 2:11:09, sê hy sal dié skuif verwelkom.

In Doha is die marathon in die vroeë oggendure beslis om die ergste hitte in dié woestynstad vry te spring. Die kwik het nietemin steeds naby aan 30° C gedraai.

“Dit was ’n wonderlike ervaring in Doha, veral omdat daar soveel goeie ondersteuning was in die aand,” het Mokoka Vrydag aan Netwerk24 gesê.

Mokoka, wat meeste van sy wedlope in Asië hardloop, sê dat hy uit gewoonte soggens tussen 01:00 en 02:00 met sy voorbereiding vir die marathon begin.

Asië se tydverskil beteken dat ek in elk geval vroegoggend oefen, so dit was nie te vreemd vir my om in Doha so laat eers weg te spring nie.
Stephen Mokoka

“Asië se tydverskil beteken dat ek in elk geval vroegoggend oefen, so dit was nie te vreemd vir my om in Doha so laat eers weg te spring nie.”

Hy sê egter dat ’n koeler plek beslis nie nadelig sal wees nie.

“Dit sal lekkerder en makliker wees as dit na ’n koeler plek skuif.

“Die humiditeit in Japan sal waarskynlik ook hoër wees as wat ons in Doha gehad het.”

Mokoka sê dat hy ter voorbereiding vir die marathon in Doha in die oggende eers 07:00 begin oefen het, juis omdat hy hitte gesoek het.

Met sy vyfde plek in Katar het hy reeds outomaties vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer.

John Coates

John Coates, die voorsitter van die IOK se komitee gemoeid met die Tokio-Spele, sê die besluit (om die marathon te skuif) is gemaak ná die Wêreldkampioenskap, waar atlete by dosyne behandeling moes kry wees die hitte en humiditeit.

“Die IOK was geskok deur wat ons in Doha gesien het wat betref soortgelyke temperatuur en humiditeit as wat ons in Tokio verwag,” het Coates volgens Reuters gesê.

“Ons wil nie hê Tokio moet onthou word vir soortgelyke beelde as wat ons in Doha gesien het in die marathon en in die stapwedlope nie.”

Coates het Vrydag met Joeriko Koike, Tokio se goewerneur, vergader. Koike het vroeër gesê dat die skuif na Sopparo hom verras het.

Die Tokio-reëlingskomitee het Donderdag gepoog om die skuif te keer met ’n teenvoorstel dat die marathon en stapwedlope so vroeg as 03:00 wegspring, maar Coates het dié idee reeds afgeskiet.

“Ongelukkig is ons nog nie ’n rede gegee (om dit in Tokio te hou) wat oortuigend genoeg is nie,” het Coates bygevoeg.

Hy het uitgewys dat só ’n vroeë wegspring probleme met vervoer sal veroorsaak en dat dit ook moeilik is om dan uit te saai.

Meer oor:  Stephen Mokoka  |  Japan  |  Tokio  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Marathon  |  Skuif  |  Langasems  |  Humiditeit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.