Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Motsau verbeter SA rekord; Luvo lank geskors
Jerry Motsau is die nuwe houer van die SA rekord in die 3000 meter-wedloop. Foto: Argief

Die vonk is terug in Suid-Afrikaanse middelafstand-atletiek.

Jerry Motsau, wat in Potchefstroom deur Jean Verster afgerig word, het Donderdagaand in Italië ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord van 7:40.99 in die 3 000 meter vir mans opgestel.

Die 31-jarige atleet het die voormalige Olimpiese atleet Juan van Deventer se vorige rekord van 7:41.06 oortref. Van Deventer het dié tyd 13 jaar gelede in Swede opgestel.

Motsau, wat die wedloop gewen het, se tyd was ook ’n nuwe byeenkomsrekord.

Adriaan Wildschutt in die kleure van die Florida State University. Foto: FSU

“Ek het geweet dit was net ’n kwessie van tyd voor hy dit sou doen,” het Verster, ’n oud-Springbok en deesdae voorsitter van Atletiek Suid-Afrika (ASA) se baan- en veldkommissie, Vrydag gesê.

Motsau se tyd Donderdagaand was die sesde vinnigste vanjaar in die wêreld.

Verster, wat ook die afrigter is van Elroy Gelant, wat Suid-Afrika vanjaar in die Olimpiese marathon in Japan sal verteenwoordig, sê Motau se peil is goed en hy het Donderdagaand afgereken met die Italianer Yemaneberhan Crippa, wat al ’n 3:52-myl en ’n 13:02 in die 5 000 gehardloop het.

Hy hoop sy atleet sal voor 29 Junie in Europa vir die 1 500 (3:35.00) of die 5 000 (13:13.50) vir die Spele kwalifiseer. Die 3 000 is nie ’n Olimpiese item nie.

Motsau se beste tyd in die 1 500 is 3:36.74 en 14:14.07 (in Pretoria, hoog bo seevlak).

“Daar is ongelukkig nie op die oomblik baie byeenkomste in Europa wat die 1 500 en 5 000 aanbied nie, maar ons sal iewers vir hom in ’n wedloop kry,” sê Verster.

Luan Munnik, ’n oefenmaat van Motsau, het op dieselfde byeenkoms in Italië ’n tyd van 3:40.30 aangeteken, wat die naasbeste tyd van sy loopbaan is.

Verster sê hy is baie opgewonde oor wat in die land se middelafstande aan die gebeur is.

’n Atleet wat hom beïndruk, is die 23-jarige Adriaan Wildschutt, ’n boorling van Ceres in die Wes-Kaap wat besig is met MBA-studies aan die Florida State University in die VSA.

Sy tyd van 13:28.97 in die 5 000 is een van die vinnigste tye vanjaar deur ’n Suid-Afrikaner. Hy spog ook met ’n 10 000-tyd van 27:48.99, wat hy vroeër vandeesmaand in Eugene, Oregon, gehardloop het.

Hy is voorgraads by die Coastal Carolina University in Myrtle Beach afgerig deur die legendariese Suid-Afrikaanse atleet Zola Budd. Bob Braman is nou sy afrigter by Florida State University.

Budd sê sy hou nie van voorspellings maak nie, “maar ons gaan nog baie van Adriaan hoor”.

Sy sê Wildschutt is die enigste atleet in Amerika wat onder die top-agt in binnenshuise atletiek, veldloop en buitenshuis tel.

“Dít is ’n ongelooflike prestasie.”

Die Kapenaar is die binnenshuise SA rekordhouer in die 5 000 met ’n tyd van 13:30.55.

Wildschutt, wat tans terug is in die land, sê Budd het hom baie gehelp in die drie jaar wat sy hom afgerig het.

“Sy hou nog steeds ’n ogie oor my,” sê dié oudleerling van die Bella Vista Hoërskool in Ceres wat hoop om ná sy studies ’n beroepsatleet te word.

Intussen kon Precious Mashele, die Suid-Afrikaanse kampioen wat deur die voormalige Olimpiese atleet Hendrick Ramaala afgerig word, Vrydagmiddag in Pietermaritzburg nie daarin slaag om in die 5 000 vir Tokio te kwalifiseer nie.

Nadat hy onlangs in Kaapstad die kwalifiseringsmaatstaf net-net misgeloop (13:18.70) het, moes hy in Pietermaritzburg met ’n tyd van 13:26 tevrede wees.

“Sy bene was teen die einde net te moeg nadat hy baie sterk begin het. Ons sal hom hopelik nou spoedig in Europa kan kry om daar te probeer kwalifiseer,” het Ramaala gesê.

Op haar beurt sal Caster Semenya Saterdagaand in Regensburg, Duitsland, probeer om die 5 000 vir vroue te kwalifiseer deur vinniger as 15:10.00 te hardloop.

• Wêreldatletiek het intussen Vrydagmiddag aangekondig dat Luvo Manyonga, die Olimpiese silwermedaljewenner in die verspring, vir vier jaar (tot 22 Desember 2024) geskors is nadat hy drie opkikkertoetse binne 12 maande misgeloop het.

Meer oor:  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.