Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Ná agt jaar goue randjie vir Caster

Caster Semenya en Sunette Viljoen gaan onderskeidelik goue en silwermedaljes kry vir hul vertonings by die Wêreldkampioenskap in 2011.

Dit volg nadat die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) besluit het om dié twee in onderskeidelik die 800 m en die spiesgooi te beloon ná die skorsing van twee Russe vir die gebruik van verbode middels.

Caster Semenya en die Rus Mariya Savinova in ’n stryd om die goue medalje gewikkel by die Wêreldkampioenskap in Daegu in 2011.Foto: Getty Images

Semenya het in 2011 in Daegu, Suid-Korea silwer gewen in die 800, waar sy die wenstreep in 1 minuut, 56.35 sekondes oorgesteek het. Rusland se Mariya Savinova het in 1:55.87 gewen.

Savinova is egter intussen geskors en van haar goue medalje gestroop, wat nou aan Semenya oorhandig sal word.

Janeth Jepkosgei van Kenia is bevorder tot die silwermedalje, met Alysia Johnson Montano van die VSA wat nou brons sal kry.

Viljoen is tot die silwermedalje bevorder in die spiesgooi nadat sy aanvanklik brons gewen het met ’n uitstekende poging van 68.38 m – tóé ’n nuwe Afrika-rekord.

Nóg ’n Rus en nóg ’n Mariya, die slag Mariya Abakumova, het aanvanklik goud gewen met ’n afstand van 71.99 m.

Sy is egter ook geskors, met Barbora Spotakova van Tsjeggië wat tot goud bevorder word nadat sy oorspronklik silwer gewen het met 71.58 m.

Die IAAF sal die atlete wat “bevorder” is tydens die Wêreldkampioenskap in Doha, Katar, met hul nuwe medaljes beloon.

Semenya, wat tans in ’n hofstryd met die IAAF gewikkel is, sal egter nie in Doha wees om haar goue medalje te ontvang nie.

Die IAAF gaan dit aan ’n verteenwoordiger van Atletiek Suid-Afrika (ASA) oorhandig en dié liggaam sal dit dan op ’n gepaste geleentheid vir Semenya gee.

Sunette Viljoen (regs) en Barbora Spotakova in 2011 met hul medaljes. Viljoen kry nou Spotakova se silwermedalje, terwyl Spotakova die nuwe houer van die onteerde Mariya Abakumova se goue medalje word. Foto: Getty Images

Viljoen sal egter op Woensdag 2 Oktober in die Khalifa-stadion, wanneer die middagsessie begin, haar medalje ontvang.

“Ná agt jaar is ons bly dat geregtigheid geskied het. Baie geluk aan ons atlete vir hul prestasies en dat hulle vereer word as skoon atlete (omdat hulle nie verbode middels gebruik het nie),” het ASA in ’n verklaring gesê.

ASA het vir Semenya en Viljoen geloof.

“Ons is bly die IAAF gee nou die geleentheid vir die regte wenners om op die podium te kan staan voor ’n volgepakte stadion, ’n kans wat destyds van hulle ontneem is deur atlete wat verneuk het,” het Aleck Skhosana, ASA-hoof, gesê.

Meer oor:  Sunette Viljoen  |  Caster Semenya  |  Daegu  |  Doha  |  Verbode Middels  |  Iaaf  |  Wêreldkampioenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.